Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Lesse vir Biden in Obama se memoires

Oudpres. Barack Obama van Amerika en Kamala Harris, nuwe Amerikaanse visepresident, groet mekaar Woensdag tydens die inhuldigingseremonie van pres. Joe Biden in Washington DC. ‘A Promised Land’, Obama se presidensiële memoires, wat onlangs verskyn het, hou vir Biden heelwat stof tot nadenke oor belangrike beleids- en ander sake in, skryf Theo Neethling. Foto: Reuters

Die Amerikaanse oudpresident Barack Obama se ‘A Promised Land’, sy presidensiële memoires, het onlangs verskyn. Wat is die lesse daarin vir pres. Joe Biden en die Withuis? Theo Neethling het die boek gelees.

Die belangrikheid van ’n vlot oorgang van een Amerikaanse presidensiële administrasie na ’n ander word dikwels misgekyk. Vroeg in sy onlangs gepubliseerde memoires vertel oudpres. Barack Obama hoe oudpres. George W. Bush, sy vrou, Laura, en hul uitgaande personeel uit hul pad gegaan het om die nuwe administrasie aan die veelvoudige werkinge van die Withuis bekend te stel.

Daarvoor het Obama die hoogste waardering gehad en hom voorgeneem om dieselfde moeite met sy opvolger te doen. Die afgelope week het dit allermins gebeur met oudpres. Donald Trump wat geensins dieselfde welwillendheid teenoor sy opvolger geopenbaar het nie. Gelukkig vir pres. Joe Biden is hy as voormalige vise-president goed vertroud met die Withuis.

Nuwe kabinetsaanstellings is belangrik. Kort ná sy inhuldiging het Obama besluit om Robert Gates as sy minister van verdediging aan te stel. Gates was vroeër ’n funksionaris van die intelligensiediens en boonop het hy in die Bush-administrasie in die verdedigingsportefeulje as opvolger vir Donald Rumsfeld gedien.

Die voormalige Amerikaanse president George W. Bush en sy vrou, Laura Bush, en nog ’n voormalige president, Barack Obama, en sy vrou, Michelle Obama, wag Woensdag vir pres. Joe Biden by die Arlington- nasionale begraafplaas in Virginia, VSA. Foto: Reuters

Tog het Obama kans gesien om Gates te betrek ondanks die feit dat Obama hom beskou het as ’n “valk van die Koue Oorlog” en boonop ’n diep afkeer in die Bush-administrasie se buitelandse beleid gehad het.

Uiteindelik was Gates ’n sleutelspeler in die dood van Osama Bin Laden in ’n uiters delikate en gewaagde operasie van die Obama-administrasie wat, as dit skeefgeloop het, Obama se politieke loopbaan groot skade kon berokken het.

Die punt is dat ’n Amerikaanse president hom nie moet omring met napraters nie, maar met bekwame, kundige rolspelers.

In sy memoires dui Obama tereg aan dat die belangrikste taak van enige Amerikaanse president is om te verseker dat die VSA ’n veilige land is. Obama stel dit sterk dat ofskoon die president ’n sterk persoonlike verbintenis mag hê om na maatskaplike tekortkominge om te sien, elke president diep bewus is van die feit dat gewone Amerikaners primêr van hul staatshoof verwag om hulle teen veiligheidsbedreigings te beskerm.

Dit bly ’n werklikheid dat die VSA deur ander groot moondhede bedreig of uitgedaag kan word. Ook kan diplomatieke foute begaan word wat tot konflik lei, terwyl dit belangrik is dat die VSA met sy geweldige mag in die internasionale politiek gunstig deur ander moondhede beskou moet word.

Wat dit betref, is pres. Joe Biden nie ’n nuweling in die internasionale politiek nie. Die sake wat hoog op sy prioriteitslys gaan wees, waaronder China, Noord-Korea, Israel en Palestina, Irak, die EU, Brittanje, Navo, die Verenigde Nasies en die Midde-Ooste, is hoegenaamd nie aan hom onbekend nie.

Dr. Jill Biden, aan die sy van haar man, Joe Biden, groet oudpres. Barack Obama en die voormalige presidentsvrou Michelle Obama net voor Joe Biden Woensdag in Washington as die 46ste president van die VSA ingehuldig word. Foto: Reuters

Met Obama se verkiesing as president was hy aanvanklik ’n groentjie in die internasionale raadsale waar wêreldleiers vergader het. Hy moes sy voete vind en sy leierskap vestig tussen invloedryke leiers soos Dmitri Medwedef en Wladimir Poetin (Rusland), Manmohan Singh (Indië), Hu Jintao en Wen Jiabao (China), asook gevestigde Europese leiers soos Gordon Brown van Brittanje, Nicolas Sarkozy van Frankryk en Angela Merkel van Duitsland.

Staatshoofde is dikwels hardkoppig en elk word gerig deur die politieke strominge in sy of haar eie land wat geen politikus kan ignoreer nie, asook hul eie ideologiese oortuigings. Wat Biden betref, is hy ook hier geen nuweling nie en hy sal nie juis bekendstelling nodig hê as daar oor internasionale sake beraadslaag en onderhandel moet word nie.

’n Verdere punt wat in die boek opval, is dat die Amerikaanse president in sy ampstermyn talle plaaslike en internasionale politieke slaggate moet mistrap. Selfs net ’n verkeerde frase kan ’n president in die sop laat beland, soos ook soms met die welsprekende Obama gebeur het. Onvoorsiene slaggate in die Amerikaanse en wêreldpolitiek gaan sekerlik ook Biden se lot wees.

In Obama se eerste termyn was die Deepwater Horizon-voorval iets wat vroeërig uit die bloute op sy presidentskap neergedaal het en hom uiteindelik baie openbare steun gekos het. Dié industriële katastrofe in 2010 in die Golf van Mexiko was die grootste maritieme olielekkasie in die geskiedenis van die petroleumbedryf. Obama vertel breedvoerig watter politieke hoofbrekens dit hom besorg het.

Bygesê, die president moet uiteindelik alléén die groot verantwoordelikheid dra as besluite skeefloop – en nie sy visepresident nie. Krisisse soos dié kom soms saam met ander uitdagings en in Obama se geval was daar ook ander internasionale vraagstukke, soos die destydse Griekse finansiële krisis en die reaksie van EU-ledestate daarop, Al-Kaïda en die Amerikaanse betrokkenheid in Afganistan, grensbeheer tussen Mexiko en die VSA en vele meer.

Te midde van sake soos dié moes hy kandidate vir die hooggeregshof oorweeg, die VSA se enorme finansiële insinking sedert 2008 bestuur en verskeie seremoniële take verrig. En krisisse duik soms op tydens druk buitelandse besoeke; krisisse wat slegs die president kan hanteer en waar ’n visepresident dikwels van baie beperkte hulp is.

Obama opper in sy boek baie insiggewende aspekte. Wat heel betekenisvol is, is dat Joe Biden tydens die Obama-termyn geen voorstander van buitelandse militêre betrokkenheid was nie. In die geval van voortgesette Amerikaanse betrokkenheid in die Afgaanse problematiek, het hy Obama selfs gewaarsku teen die generaals wat hom as president by die militêre raamwerk wou laat inpas en nie by Obama se politieke raamwerk wou inval nie.

Daar was selfs vingerwysings in die Withuis na Biden as ’n rolspeler wat die verhoudinge tussen die Pentagon en die Withuis “vergiftig” het.

Een die VSA se mees hoogaangeskrewe generaals, Stanley McChrystal, moes ook bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hy minagtend en neerhalend na die visepresident verwys het.

Wat ’n mens hieruit kan aflei, is dat Biden nie juis die grootste politieke bondgenoot van die Pentagon is nie en nie sonder meer die Amerikaanse weermag by elke tweede konflik betrokke gaan maak nie.

’n Laaste punt is dat enige Amerikaanse president sy oog gedurig op sy gewildheidspeilings moet hou. Hy kan nie net maak wat hy wil nie en in die VSA is steun in die senaat bepalend vir die deurvoer van beleid al dan nie.

Op die federale gesondheidsterrein was die goedkeuring van Obamacare ’n groot uitdaging, terwyl Obama se pogings om met die sogenaamde Dream-wetgewing die kinders van immigrante in die Amerikaanse samelewing op te neem groot teenstand gekry het.

Die Republikeinse senatore het dit nooit vir Obama maklik gemaak nie. Al is die senaat nou effens meer gunstig vanuit ’n Demokratiese oogpunt, gaan dit steeds nie vir Biden maklik wees nie. Hy sal dalk nie kan reken op die stemme van enkele Demokratiese senatore wat konserwatief neig in sekere sake nie, of van Demokratiese senatore wie se politieke toekoms afhang van ’n konserwatiewe kiesersmening in hul deelstate nie.

Die Biden-administrasie gaan beslis ’n paar winde van veranderinge in die Withuis laat waai, maar Covid-19 stel enorme uitdagings en die middeltermynverkiesings wag in November 2022. Daarna kan sake opnuut verander.

Baie gaan afhang van die talle slaggate wat vir pres. Joe Biden wag. Elke beweging van hom gaan fyn dopgehou word en elke verkeerde woord – ’n “gaffe” – gaan aan die groot klok gehang word.

Prof. Theo Neethling is verbonde aan die departement politieke studie en regeerkunde aan die UV.

Meer oor:  Joe Biden  |  Barack Obama  |  Lesse  |  A Promised Land
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.