Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Libanon: ‘Dit eindig nie met regering wat loop’

Woedende Libanese meen dat die regering se bedanking Maandag nie naastenby voldoende reaksie was op die tragedie van verlede week se verwoestende hawe-ontploffing nie.

Hulle eis die verwydering van wat hulle as die land se korrupte regeringsklas beskou en wat hulle meen te blameer is vir die land se treurmares.

’n Betoging met die slagspreuk “begrawe die owerhede eerste” is vir naby die hawe beplan, waar hoogs plofbare middels wat jare lank geberg is, op 4 Augustus ontplof en tot die dood van minstens 163 mense gelei, 6 000 beseer en honderdduisende dakloos gelaat het.

Toe Hassan Diab, premier, Maandagaand sy kabinet se bedanking aangekondig het, het hy endemiese omkopery vir die grootste ontploffing in die land se geskiedenis blameer, wat ’n diep finansiële krisis veelvuldig vererger het wat reeds die land se geldeenheid in duie laat stort het, die banksektor verlam en pryse opgejaag het.

“Ek het al voorheen gesê dat korrupsie oral in die staat ingegrawe is, maar ek het ontdek dat korrupsie groter is as die staat,” het Diab gesê, wat die politieke elite die skuld daarvoor gegee het dat hulle in die pad van politieke hervormings staan.

Gesprekke met die Interna­sionale Monetêre Fonds (IMF) het vasgedraai te midde van ’n twis tussen die regering, banke en politici oor die skaal van die uitgebreide finansiële verliese.

“Dit eindig nie met die regering se bedanking nie,” lui ’n betogingspamflet op sosiale media. “Daar is steeds (president Michel) Aoen, (parlementêre speaker Nabih) Berri en die hele stelsel.”

Vir baie Libanese was die ontploffing die laaste druppel aan die emmer in ’n uitgebreide krisis oor die ineenstorting van die ekonomie, korrupsie, vermorsing en wanfunksionele regering.

Graffiti is hier te sien op ’n muur by die beskadigde hawe in die nasleep van die reuse-ontploffing verlede week in Beiroet. Libanon. Foto: Reuters

Die Beiroet-hawe weerspieël die sektariese magstelsel waarin dieselfde politici die land sedert die burgeroorlog vanaf 1975 tot 1990 oorheers het.

Elke faksie het sy kwota direkteure by die hawe, wat die land se hoof-handelsaar is.

“Dit is ’n goeie ding dat die regering bedank het.

“Maar ons het nuwe bloed nodig, anders gaan dit nie werk nie,” het Avedis Anser­lian, ’n silwersmid, voor sy verwoeste winkel aan Reuters gesê.

Van Aoen word verwag om parlementêre blokke te raadpleeg oor wie die volgende eerste minister moet wees, en hy is verplig om die kandidaat met die meeste steun aan te wys. Die saamstel van ’n regering te midde van faksies was in die verlede uitdagend.

Maar ons het nuwe bloed nodig, anders gaan dit nie werk nie.

Nou, met toenemende openbare ontevredenheid en die knellende finansiële krisis, kan dit moeilik wees om iemand op te spoor wat bereid sal wees om premier te word.

Ondertussen tel inwoners van Beiroet steeds die stukkies van hul lewe op en word steeds na vermistes gesoek.

Amptenare sê die ontploffing het verliese van $15 miljard (sowat R262 miljard) veroorsaak – geld wat Libanon nie het nie.

Ihsan Mokdad, ’n kontrakteur wat die skade gaan bepaal, het hom by ’n verwoeste gebou in Gemmayze, ’n distrik ’n paar honderd meter van die hawe af, só uitgelaat: “Soos wat die premier gesê het . . . die korrupsie is groter as die staat. Hulle is almal ’n klomp skelms. Ek het nie een parlementslid dié gebied sien besoek nie.

“LP’s moes in groot getalle hier opgedaag het om die gemoedere te lig,” het hy gesê. – Reuters

Meer oor:  Libanon  |  Beiroet  |  Regering  |  Bedanking  |  Ontploffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.