Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Libanon: Regering bedank ná erge woede

Libanon se regering het Maandagaand bedank.

Hassan Diab, premier, het die aankondiging Maandagaand op TV gedoen en gesê die reuse-ontploffing wat Beiroet, die hoofstad, geruk het, is die gevolg van endemiese korrupsie.

Meer as 2 000 t ammonium-nitraat het in ’n hawepakhuis ontplof. Meer as 200 mense is dood, meer as 6 000 beseer en ’n groot deel van die Mediterreense stad is vernietig.

Die ramp het enorme betogings teen die regering ontketen en gelei tot die bedanking vroeër van verskeie ministers.

Dit het maande van politieke en ekonomiese agteruitgang op die spits gedryf en daar was woedende eise om die bedanking van die hele regering.

Libanese het Maandag voor die Baabda-paleis saamgedrom en pres. Michel Aoen se bedanking geëis.

’n Betoger slaan ’n traanrookhouer met ’n tennisraket terug na die onluspolisie in die oproer Saterdag in Beiroet. Foto: AP

Aoen het die regering se bedanking aanvaar en gevra dat die kabinet as toesighoudende regering aanbly totdat ’n nuwe regering verkies kan word.

Hy het egter nie self ook bedank nie.

Die kabinet is in Januarie met die steun van die magtige Iran-gesteunde Hezbollah-groep en sy bondgenote gevorm.

Die minister van inligting en van omgewingsake, asook verskeie lede­ van die wetgewer het Sondag bedank.

Die minister van justisie het vroeër Maandag bedank en het na die katastrofiese ontploffing verwys.

“Die hele regime moet verander. Dit sal geen verskil maak as daar ’n nuwe regering is nie,” het Joe Haddad, ’n ingenieur, aan Reuters gesê. “Ons het vinnig verkiesings nodig.”

Diab het Saterdag gesê hy sal om vroeë parlementêre verkiesings vra.

Satellietfoto’s wys die Beiroet-hawe op 9 Junie en op 5 Augustus, ná die ontploffing. Foto: Reuters
Die hele regime moet verander. Dit sal geen verskil maak as daar ’n nuwe regering is nie.

Aoen het voorheen gesê plofstof is jare lank by die hawe geberg. Hy het later gesê in die ondersoek sal gekyk word of die oorsaak van die ontploffing eksterne inmenging, nalatigheid of ’n ongeluk was.

Beiroet se goewerneur sê baie buitelandse werkers en vragmotorbestuurders word steeds vermis en daar word aangeneem dat hulle onder die sterftes is, wat die pogings bemoeilik om slagoffers te identifiseer.

Die grootste betogings sedert Oktober is die afgelope twee dae teen die regering gehou.

Sommige Libanese twyfel of verandering in dié land moontlik is waar sektariese politici die land ná die burgeroorlog van 1975 tot 1990 oorheers het.

“Dit sal nie werk nie; dis presies dieselfde mense. Dit is ’n mafia,” sê Antoinette Baaklini, ’n werknemer van ’n elektrisiteitsmaatskappy wat in die ontploffing vernietig is.

’n Noodkonferensie vir internasionale skenkings Sondag het beloftes van bykans 253 miljoen vir humanitêre hulp ingesamel.

Maar lande vereis deursigtigheid oor hoe die geld gebruik word.

Sommige is bekommerd oor die invloed van die Sjiïtiese Hezbollah, wat die VSA as ’n terroristegroep beskryf. – Reuters

Meer oor:  Libanon  |  Beiroet  |  Ontploffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.