Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Libanon se ‘korrupte hart’ klop op die voorblad

Bloed op die voorblad van ’n koerant is nie ongewoon nie, maar ’n Libanese koerant het dit ’n stappie verder gevoer en van hul lesers se bloed met drukkersink gemeng om ’n boodskap teen korrupsie uit te stuur.

Die koerant An-Nahar se spesiale Bloedlyn-uitgawe, wat op Valentynsdag vanjaar verskyn het, moedig met hul End the Bleed-veldtog inwoners aan om hulle teen korrupsie uit te spreek.

Hannes de Beer (31), ’n Suid-Afrikaans-gebore kopieskrywer wat vir die advertensiemaatskappy agter die veldtog, Impact Proximity, in Dubai werk, sê die voorblad was ’n “heerlike projek om aan te werk”.

“Libanon is besig om uit te bloei onder wydverspreide korrupsie en die inwoners van die land voel hulle is stemloos. Dit was ’n wonderlike projek om dié mense se stemme weer aan hulle terug te gee,” sê De Beer.

Op An-Nahar se spierwit voorblad van 14 Februarie groei ’n bloedrooi sipresboom uit ’n anatomies korrekte mensehart. Die simbool van ’n sipres pryk op Libanon se vlag.

In 2019 het dié advertensiemaatskappy ’n Cannes Grand Prix-prys gekry vir ’n ander veldtog vir An-Nahar. Die konsep was ’n leë uitgawe om mense se frustrasie uit te beeld met die land se politici.

Intussen het The New York Times die afgelope week berig die hof het die Libanese regter Fadi Sawan, wat Augustus se reuse-ontploffing in dié stad se hawe moes ondersoek, van die saak verwyder – glo omdat sy eie huis ook in die ontploffing beskadig is en hy dus nie onpartydig kon wees nie.

Sawan het in Desember, ná maande se ondersoek, die waarnemende premier van Libanon, Hassan Diab, asook drie voormalige ministers van strafregtelike nalatigheid aangekla. Twee van dié ministers het hom toe hof toe gesleep.

Karim Traboelsi, redakteur van The New Arab, ’n aanlyn meningsblad, sê: “Korrupsie in Libanon is op byna elke vlak van die politieke en ekonomiese lewe ’n plaag.”

Meer oor:  Libanon  |  Koerant  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.