Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Lugrederye hok nuwe Boeing ná ramp

Ethiopian Airlines het al sy vlugte gestaak wat hy met die nuwe Boeing 737 Max 8 sou onderneem.

Luidens die lugdiens se webtuiste het hy 29 van die vliegtuie op bestelling gehad. Dit was nie onmiddellik duidelik hoeveel reeds in gebruik is nie.

Die veiligheid van Boeing se jongste weergawe van sy topverkoper, die 737, wat  beskou word as die werkesel van lugvaart wêreldwyd, word bevraagteken, nadat 'n tweede 737 Max 8 Sondag neergestort het. Al 157 mense aan boord is dood.

Die vlug van Ethiopian Airlines het ses minute nadat dit uit Addis Abeba opgestyg het op pad na Nairobi neergestort. 

Dieselfde vliegtuig het luidens die lugdiens nog dieselfde oggend uit Johannesburg opgestyg. Geen Suid-Afrikaners was egter aan boord nie.

'n Identiese, splinternuwe vliegtuig van Lion Air het verlede Oktober by Indonesië geval. In daardie lugramp is 189 mense dood.

Al Jazeera het met 'n lugvaartkenner, Alex Macheras, gepraat wat meen Sondag se ramp het die fokus op die vliegtuig eerder as die lugdiens geplaas, aangesien Ethiopian Airlines 'n goeie veiligheidsrekord het.

Ethiopian Air
Werkers woon 'n seremonie by toe China Air ontvangs geneem het van sy eerste Boeing 737 Max 8 by die Boeing Zhoushan-sentrum in Zhoushan, Zhejiang-provinsie op 15 Desember verlede jaar. Foto: Reuters

Die lugdiens se laaste ongeluk voor Sondag was in 2010 toe 'n Boeing 737-800 in die see by Libanon geval het. In daardie ongeluk is 90 mense dood.

Die lugdiens is die grootste op die vasteland wat wins betref en bedien 113 bestemmings met 108 vliegtuige, berig Al Jazeera.

Ethiopian Airlines, lugramp
'n Famielid van 'n passasier op Ethiopian Airlines Vlug ET 302 word Sondag op die Jomo Kenyatta-internasionale lughawe in Nairobi deur ander ondersteun. Foto: Reuters

China se regering het Maandagoggend aangekondig dat sy burgerlugvaartowerheid (CAAC) alle vlugte wat met die Boeing 737 Max-vliegtuie onderneem sou word, staak.

China se onderskeie lugdienste het 97 van dié vliegtuie. 

“Aangesien dit in albei gevalle pas afgelewerde Boeing 737 Max 8-vliegtuie was wat geval het, en dit gebeur het kort nadat die vliegtuie opgestyg het, moet daar ooreenkomste wees,” het die CAAC gesê.

Boeing het Sondag in 'n verklaring gesê hy stuur 'n tegniese span na die ongelukstoneel. – Reuters

Meer oor:  Kenia  |  Ethiopië  |  China  |  Nairobi  |  Indonesië  |  Neerstort  |  Ethiopië-Lugramp  |  Vliegtuigongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.