Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Macron huldig ‘Franse Elvis’ in roerende twiet
Aanhangers rou voor Johnny Hallyday se huis in Marnes-la-Coquette, naby Parys in Frankryk. Foto: Reuters/Christian Hartmann

Daar is ’n bietjie “Johnny” in almal van ons.

Só het die Franse president, Emmanuel Macron, getwiet nadat die “Franse Elvis”, Johnny Hallyday, sy stryd op 74 teen longkanker verloor het.

Sy vrou, Laeticia, het Macron omstreeks 02:00 met die nuus gebel, berig The Guardian.

“Johnny Hallyday het ons verlaat,” het sy Woensdag bekend gemaak.

“Ek skryf hierdie woorde sonder om dit te glo, maar dis waar. My man is nie meer met ons nie. Hy het ons vanaand verlaat nadat hy sy hele lewe met waagmoed en waardigheid geleef het.”

Macron het luidens ’n verklaring gesê “Ons sal nooit die naam, gesig, stem en konserte van Johnny Hallyday vergeet nie.”

Johnny HallydayFoto: Getty Images

Volgens The Guardian het Frankryk se grootste rockster, wat bekend was vir sy leerbroeke, meer as 110 miljoen albums oor 55 jaar verkoop.

Geïnspireer deur Elvis Presley, het Hallyday weggebreek van die Franse styl en die kleredrag en houding van sy Amerikaanse helde aangeneem.

Volgens The Independent het hy sy eerste groot geleentheid in 1960 gekry met die treffer “T’aimer follement”.

Hy het later ook Franse weergawes van bekende liedjies soos Jimi Hendrix se “Hey Joe” gesing.

Johnny Hallyday in Parys, Frankryk, in 1980.Foto: Philippe Le Tellier/Getty Images

Meer oor Johnny Hallyday

Hallyday se lewensreis was nie aldag maanskyn en rose nie.

Daar het ’n weerloosheid geskuil agter die “stoute seun” wat nie kon ophou met partytjies hou nie, berig die nuusblad.

Hallyday het al erken hy het moeilik grootgeword, met ’n alkoholis-pa wat die gesin verlaat het toe Hallyday skaars agt maande oud was.

Hy het ook ’n stryd gevoer met kokaïenverslawing. In 1966 het hy homself om die lewe probeer bring en in 1986 het hy ineengestort.

Hy was vyf keer getroud – twee keer met dieselfde vrou.

Johnny Hallyday agter die verhoog in 1960. Foto: Harry Hammond/V&A Images/Getty Images

Kritici, spotprenttekenaars en komediante het dikwels ’n bespotting van hom gemaak, alhoewel die bekroonde rolprentvervaardigers Jean-Luc Godard en Patrice Leconte met groot lof van hom op stel gepraat het.

“Hy is ’n versinnebeelding van die noodsaaklikheid van ’n Franse jeugkultuur en rock ’n roll,” het Serge Kaganski, rockresensent van die Franse tydskrif Les Inrockuptibles voorheen gesê.

Jean-Jacques Goldman, ’n vriend en sanger, sê daar was “ ’n baie diep toegeneentheid jeens Johnny, iets wat verby geslagte en sosiale klasse strek”.

Hallyday het self aan AFP gesê hy is nie naastenby so dom soos almal dink nie. “Ek dink hierdie beeld van my hoort in my verlede.”

Meer oor:  Jean-Jacques Goldman  |  Emmanual Macron  |  Johnny Hallyday  |  Afsterwe  |  Bekendes  |  Sanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.