Europa moet herbesin oor sy Schengen-gebied en die grense beter beskerm, het pres. Emmanuel Macron Donderdag ná ’n vlaag van Islamitiese terreuraanvalle in Frankryk en Oostenryk gesê.
Volgens Macron is strenger beheer nodig om onwettige immigrante te keer. Hy het bygevoeg dat misdaadbendes wat immigrante in Europa insmokkel, dikwels bande met terreurgroepe het.
Hy het op ’n besoek aan die grens tussen Frankryk en Spanje gesê dat die EU se gemeenskaplike grense deur ’n behoorlike veiligheidsmag beskerm moet word.
Die Franse president het verder gesê dat hy op ’n beraad van die Europese Unie (EU) in Desember voorstelle in hierdie verband gaan voorlê.
Europa het die afgelope week onder twee terreuraanvalle deurgeloop, waar die aanvallers vrylik tussen die Schengen-lidlande beweeg het.
Brahim Aouissaoui van Tunisië het op 29 Oktober drie mense in ’n kerk in Nice vermoor. Hy het vyf weke gelede op die Italiaanse eiland Lampedusa aangekom en is oor na die vasteland, waar hy per trein na Frankryk gereis het.
Die Islamitiese terroris wat Maandag vier mense in Wene, Oostenryk, vermoor het, het in Julie na die buurstaat Slowakye gereis in ’n poging om patrone te koop, het Oostenrykse amptenare gesê.
Volgens Macron is die aanvalle ’n wekroep vir Europa dat “die risiko van terrorisme oral is”.
Macron wil aan die EU voorstel dat Europa ’n gemeenskaplike grensmag en streng grensbeheer instel, en dat elke lidland inligting onder die gesag van ’n Europese raad vir interne veiligheid verskaf.
Hy het ook Donderdag bekend gemaak dat Frankryk sy aantal polisiebeamptes op sy grense gaan verdubbel.
Volgens data deur Eurostat was bykans 628 000 mense in 2019 onwettig in Europa. Dit is ’n toename van 10% teenoor die vorige jaar. Meer as 717 000 mense is by grense toegang geweier. Dit was die meeste tot nog toe.
Die Schengen-sone bestaan ??uit 22 van die 27 lidlande van die EU, asook Ysland, Noorweë, Switserland en Liechtenstein. – Reuters
Bron: Reuters: https://www.reuters.com/article/us-france-borders-macron/europe-must-strengthen-border-controls-after-attacks-says-macron-idUSKBN27L1P0