Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Maddie McCann: Ons het g’n brief gekry, sê ouers

’n Duitse aanklaer het hulle nié per brief verwittig dat die vermiste Madeleine (Maddie) McCann dood is nie, sê haar ouers.

Kate en Gerry McCann sê in ’n verklaring op dieFacebookblad Official Find Madeleine Campaign berigte dat hulle so ’n brief gekry het, is onwaar.

Hulle het ook geen woordvoerder nie, en lewer nie lopende kommentaar op die ondersoek nie, lui die verklaring.

Daar is vroeër berig Duitse staatsaanklaers het glo tasbare bewyse wat 100% bevestig dat Maddie dood is, maar hulle wil nog nie die bewyse aan haar ouers voorlê nie omdat dit moontlik hul ondersoek na die verdagte, Christian Brückner, in die wiele kan ry.

Mediaberigte haal “vriende van die McCann’s” aan wat sê die egpaar is gefrustreer weens die gebrek aan kommunikasie van die Duitse owerhede.

Madeleine was drie jaar oud toe sy op 3 Mei 2007 uit ’n vakansievilla in die Portugese oord Praia da Luz verdwyn het.

Volgens die McCanns was daar “baie onakkurate berigte in die media” sedert die Duitse, Britse en Portugese polisie vroeër vandeesmaand Brückner as hoofverdagte begin ondersoek het.

“Die nuus dat ons ’n brief van die Duitse owerhede gekry het waarin ons meegedeel word dat daar bewyse is dat Madeleine dood is, is onwaar, ” lui die verklaring.

“Soos baie onbevestigde berigte in die media, het dit onnodige angs vir vriende en familie veroorsaak en ons lewens weer eens ontwrig.

“Soos ons al baie keer voorheen gesê het, sal ons nie lopende kommentaar lewer op die ondersoek nie – dit is die taak van die wetstoepassingsagentskappe en ons sal enige hulp wat hulle versoek, aan hulle gee.”

Die McCann’s sê as hulle kommentaar wil lewer, sal hulle dit in ’n verklaring op die amptelike webwerf Find Madeleine doen.

“As daar belangrike verwikkelings is wat openbaar gemaak kan word, sal dit via amptelike polisiekanale uitgereik word,” lui die McCann’s se verklaring.

Intussen wil Duitse ondersoekers ’n speekselmonster wat in die vakansievilla gekry is, hertoets.

Sky News berig die forensiese toetse wat die Portugese op die monster gedoen het, toon geen DNS-verband met Brückner nie.

Die Duitse owerhede glo egter hul wetenskaplikes moet hul eie toetse doen, want die monster – wat glo op Maddie se bed gevind is – is potensieel belangrike getuienis en hulle hoop dat hulle dit met hul verdagte kan verbind. Die Duitse owerhede gaan glo dieselfde forensiese tegnieke toepas as die Portugese.

Maar die Portugese polisie sal waarskynlik nie die speekselmonster stuur nie, deels weens die onlangse kritiek deur die Duitse aanklaer, Hans Christian Wolters.

Hy het verlede week gesê die Portugese polisie glo steeds dat Maddie se ouers verantwoordelik was vir die verdwyning. Die Portugese polisie het hulle egter in 2008 as verdagtes uitgesluit.

Daar kan ook wetlike beperkings wees wat sal verhinder dat die monster onder sulke omstandighede na die buiteland gestuur word vir hertoetsing.

In 2012 het speurders van Scotland Yard ’n Portugese forensiese laboratorium besoek toe hulle op die punt was om hul eie ondersoek te begin. Hul versoek om hare wat in die woonstel gevind is te toets, is afgekeur.

Brückner se prokureur, Friedrich Fulscher, het intussen gesê Brückner was nie by Maddie se verdwyning betrokke nie, berig The Mirror. Fulscher het egter niks verder oor sy kliënt se ontkenning gesê nie.

Dit het ook aan die lig gekom dat Brückner dalk op 17 Julie uit die tronk vrygelaat kan word as die Europese Hof van Justisie sy skuldigbevinding aan die verkragting van ’n 72-jarige Amerikaanse vrou in Praia da Luz omkeer.

Hy betwis die skuldigbevinding omdat die Duitse polisie hom uit Portugal laat uitlewer het op grond van ’n afsonderlike skuldigbevinding aan dwelms, maar hom toe vir die verkragting verhoor het.

Sy prokureurs voer aan dat dit onwettig was.

Uitspraak word op 16 Julie verwag. Die verhoor is bespoedig weens die ongewone omstandighede van die saak.

Meer oor:  Ontvoering  |  Madeleine Mccann  |  Pedofiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.