Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Man plant glo bomme om wins uit verkoopopsie te maak

Die polisie in Duitsland het Vrydag ’n man in hegtenis geneem weens ’n bomaanval op ’n sokkerspan se bus.

Die man het drie bomme laat ontplof, wat volgens aanklaers gemik was teen die Borussia Dortmund-sokkerspan. Die bomplanter het glo gehoop dat die aanval die klub se aandele sal laat tuimel en dat hy ’n wins uit verkoopopsies sal maak.

Die polisie identifiseer die verdagte (28), wat burgerskap van Duitsland en Rusland het, in ’n verklaring as Sergei V.

Die bus was op 11 April op pad na die klub se tuisstadion vir ’n Kampioeneligawedstryd teen AS Monaco toe die voorval plaasgevind het. Marc Barta, ’n Spaanse verdediger, is beseer en die wedstryd is met ’n dag uitgestel.

Die bus waarin die Borussia Dortmund-sokkerspan gery het toe die bomme ontplof het. Foto: Reuters

Aanklaers het verlede week die egtheid van drie briewe bevraagteken wat op die toneel agtergelaat is. In dié briewe word beweer dat Islamitiese militante die aanval uitgevoer het.

Die aanklaer se kantoor sê die verdagte het op die dag van die aanval 15 000 verkoopopsies op Borussia Dortmund se aandele uitgeneem. ’n Verkoopopsie gee aan die belegger die reg, maar nie die verpligting nie, om aandele op of voor ’n bepaalde datum teen ’n vasgestelde prys te verkoop.

“As Borussia Dortmund se aandele ná die aanval drasties geval het, sou die verdagte se wins veel groter gewees het.”

Volgens die aanklaers kon ’n ernstige besering of die dood van ’n speler die klub se aandeelprys skerp laat daal het.

Borussia Dortmund se aandele het op 12 April, die dag ná die aanval, met 1,8% gestyg.

Die verdagte word aangekla van poging tot moord, ernstige aanranding en die plant van ’n bom. – Reuters

Meer oor:  Plant  |  Om  |  Glo  |  Maak  |  Man  |  Wins  |  Uit  |  Te
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.