Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Man wat Macron klap, glo ’n ‘geek’ en ‘gamer’

Die man wat pres. Emmanuel Macron Dinsdag deur die gesig geklap het, bestuur ’n klub vir entoesiaste van Middeleeuse swaarde en het geen misdaadrekord nie, het twee bronne na aan die polisieondersoek Woensdag gesê.

’n Polisiebron het die verdagte as die 28-jarige Damien Tarel geïdentifiseer. Tarel en nog ’n man was Woensdag nog in polisie-aanhouding, het die bron gesê.

Die aanklag van aanranding teen ’n openbare amptenaar het ’n maksimum vonnis van drie jaar tronkstraf en ’n boete van 45 000 (sowat R750 000).

Tarel word ondersoek vir die aanranding van ’n openbare amptenaar, het die plaaslike aanklaer gesê.

Macron is Dinsdag deur die gesig geklap deur ’n man in ’n groen hemp wat lid was van ’n klein skare mense wat gewag het om hom te groet.

Macron was op ’n uitstappie in die suide van die land om restauranteienaars en studente te ontmoet en om te praat oor die nagevolge van die Covid-19-pandemie. Dit is nou minder as ’n jaar voor die volgende presidentsverkiesing.

’n Video wys hoe die president na die man uitreik om hom te groet toe die man skree: “Down with Macronia” en “Montjoie Saint Denis”.

Laasgenoemde is die strydkreet van die Franse leër toe die land nog ’n monargie was. Die man het Macron deur die gesig geklap en Macron se veiligheidswagte het hom platgeduik.

’n Bron na aan die ondersoek beskryf Tarel as iemand wat “ ’n bietjie verlore,” is. Hy is glo “ ’n bietjie geeky en ’n bietjie van ’n gamer”.

Reuters kon nie Tarel se prokureur identifiseer nie.

Tarel bestuur ’n plaaslike klub wat fokus op die beoefening van historiese Europese gevegskuns, insluitend tradisionele swaardvaardigheid, en het ’n bordspelklub met die naam “The Knights of the Square Table” gestig.

’n Kennis in sy tuisdorp, Saint-Vallier, in die suidooste van Frankryk, beskryf hom as ’n man wat van historiese rolspel hou en nie probleme veroorsaak nie.

In dié skermgreep kan gesien word hoe Damien Tarel die Franse president, Emmanuel Macron, deur die gesig klap. Foto: BFM/TV via AP

Aurélien Laniece, ’n vriend van Tarel, het aan Reuters gesê hy ken hom as ’n ordentlike mens wat altyd gereed is om bure te help, en wat graag sy passie aan ander leer.

Laniece het sy verbasing uitgespreek oor berigte in die Franse media dat Tarel se sosialemediarekeninge getoon het dat hy verregse en monargistiese groepe gevolg het. Reuters kon dit nie bevestig nie omdat Tarel se rekeninge privaat gemaak is.

“Hy is nie die soort man wat iemand sal slaan nie,” het Laniece gesê. “Die inperking was moeilik, maar hy wou graag aan die heropening (van die ekonomie) werk.”

Staatsamptenare het die afgelope weke hul kommer uitgespreek oor opgekropte frustrasies wat ná die inperking kop uitsteek. Daar is al langer as sewe maande ’n aandklokreël in Frankryk.

Macron het gesê hy het nie vir sy veiligheid gevrees nie en het voortgegaan om lede van die publiek se hande te skud nadat hy geklap is.

“ ’n Mens mag nie geweld of haat hê nie, nie in spraak of in aksies nie. Anders is dit die demokrasie self wat bedreig word,” het hy ná die voorval aan ’n plaaslike koerant gesê.

Macron is al voorheen deur ontnugterde burgers geteiken. Hy is deur vakbondlede met eiers bestook oor arbeidshervormings toe hy in 2016 minister van ekonomie was. Twee jaar later was hy ontnugter nadat hy deur betogers teen die regering uitgejou is. – Reuters

Meer oor:  Emmanuel Macron  |  Frankryk  |  Franse President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.