Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Manchester: Dodetal ná ontploffing styg
Die polisie se forensiese deskundiges besig met die ondersoek ná die ontploffing by die Manchester-arena. Foto: Getty Images

Die dodetal in die ontploffing in Manchester in Brittanje het tot 22 gestyg - van hulle is kinders.

Die polisie sê 59 mense is ook in die vermoedelike terreuraanval beseer.

Die selfmoordbomaanvaller het glo alleen opgetree.

Die voorval het Maandagaand buite die Manchester-arena gebeur ná ’n konsert deur Ariana Grande, 'n Amerikaanse sangeres wat gewild is onder veral tieners en kinders.

Geskokte konsertgangers word op die toneel behandel. Foto: Reuters

Daar is nog geen inligting ontvang oor enige Suid-Afrikaner wat in die ontploffing in Manchester dood of beseer is nie, sê Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van buitelandse sake.

The Guardian berig dat die polisie se teen-terrorismenetwerk en Brittanje se binnelandse veiligheidsdiens MI5 ook betrokke is in die ondersoek na die aanval.

Die ontploffing het in die middel van ’n verkiesingsveldtog gebeur. Alle politieke partye het hul verkiesingsveldtogte na die aanval tydelik gekanselleer.

Dit is die nuutste in ’n reeks aanvalle wat Europa teiken sedert 2015 en kom slegs twee maande nadat ’n aanvaller vyf mense doodgemaak het buite die parlementsgebou in Londen.

“Ons is besig om vas te stel wat presies gebeur het maar vir nou hanteer die polisie dit soos ’n terreuraanval,” sê Theresa May, Britse premier, in ’n verklaring.

“Ons dink aan die slagoffers en die familielede van diegene wat geraak is.”

May sal Dinsdagoggend ’n vergadering in Londen lei van die regering se Cobra-noodkomitee, wat ministers en sekuriteitsamptenare insluit.

Gewapende polisielede by die Manchester-arena waar die ontploffing plaasgevind het. Foto: AP

Ooggetuies het aan Sky News gesê hulle het ’n harde slag aan die einde van die vertoning gehoor.

“Die konsert was klaar en ons almal was besig om te loop, en daar was ’n ontploffing aan ons linkerkant en mense het begin hardloop,” het Isabel Hodgins, ’n aktrise, aan Sky News gesê. “Dit het soos ’n brand geruik en daar was redelik baie rook toe ons vertrek het.”

Die voorval herinner aan die aanval in 2015 op Bataclan in Parys, Frankryk, waar gewapende mans ’n rockkonsert geteiken het.

Die konsertgangers in Manchester was selfs jonger. Sommige ooggetuies meen dat kinders so jonk soos nege jaar by die konsert was.

Een ooggetuie het aan die BBC gesê ouers het op mure gestaan en vir hul kinders geskree ná die ontploffing. Hotelle in die stad het kinders tydelik ingeneem totdat hul familielede opgespoor kon word.

Foto’s van vermiste tieners is deur vriende en familie op sosiale media geplaas. Die beseerdes word in ses hospitale in Manchester behandel, sê Hopkins.

Sommige konsertgangers sê hulle het eers gedink die ontploffing is veroorsaak deur een van die pienk ballonne wat die arena versier het. Televisiebeeldmateriaal wys tonele van paniekbevange mense wat skarrel om die plek te verlaat. 

Meer oor:  Manchester  |  Ariana Grande  |  Ontploffing  |  Terreuraanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.