Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mandeladag-lesing vandag aanlyn in New York aangebied

’n Dag nadat oudpres. Nelson Mandela se jongste dogter, Zindzi, begrawe is, word sy verjaardag en nalatenskap wêreldwyd gevier.

Te midde van die Covid-19-pandemie vind mense vanjaar interessante en nuwe maniere om 67 minute terug te gee aan die gemeenskap. Talle geleenthede om Mandela te eer, gaan ook aanlyn voort.

Die Verenigde Nasies (VN) se jaarlikse gedenklesing in Mandela se naam, wat vanjaar die 18de keer gehou word, moet nou aanlyn geskied.

Oudpres. Nelson MandelaFoto: Argief

“Madiba was in die 20ste eeu ’n morele reus en sy tydlose nalatenskap lei ons steeds in die 21ste eeu,” sê António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, in ’n video.

“Vir my persoonlik was hy ’n ongelooflike inspirasie vir geregtigheid, menswaardigheid en gelykheid.”

Guterres sal die lesing Saterdag omstreeks 15:00 in die VN se hoofkantoor in New York aanbied. Weens die pandemie sal dit die eerste keer aanlyn gedoen word.

“Ek gaan my lesing wy aan die onderwerp van ongelykheid-pandemie, en hoe dit in dié tyd aangepak kan word.”

Van die items wat die vroue van die Southfield Library Knitting Club vir behoeftiges geskenk het.Foto: Verskaf

Mense kan die lesing op die Nelson Mandela-stigting se webblad volg.

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement sê mense kan geld skenk om pasiënte in staats- en versorgingsfasiliteite in die Wes-Kaap te ondersteun.

“Alle inwoners kan help deur omgee-pakkies vir pasiënte voor te berei. Van die items wat benodig word is komberse, sokkies, toiletware, warm klere, skoon lapmaskers wat pasiënte ná hul verblyf huis toe kan neem, en sportwaterbottels,” lui die departement se verklaring.

“Mense kan enigiets anders insluit om te wys hulle gee om. Mense word aangemoedig om ’n tuisgemaakte kaartjie of prentjie, gedig of tekening by te sit om hul mede-Suid-Afrikaners te inspireer terwyl hulle herstel.”

Mense en ondernemings wat betrokke wil raak, kan Harry Grainger by The Health Foundation kontak vir meer inligting oor die skenkings. Die kontakbesonderhede is 021 418 1580 en Harry@thehealthfoundation.org.za.

Apies en beertjies is onder die items wat die vroue van die Southfield Library Knitting Club gebrei het.Foto: Verskaf

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, sê in ’n verklaring hy hoop Saterdag, wat Mandela se 102de verjaardag sou wees, mense krag en hoop sal hê te midde van die Covid-19-pandemie.

“Die viering van Mandeladag bring die waardes wat Tata Madiba uitgeleef het weer in fokus: dissipline, deernis, regverdigheid en hoop,” sê Plato.

Die Robbeneiland-museum hou Saterdag saam met DJ Shimza en die Springbok-rugbyspeler Siya Kolisi se stigting ’n insameling vir gemeenskappe wat geraak word deur Covid-19 met die uitsending van ’n konsert. Die konsert sal twee uur lank duur.

“Vanjaar gebruik ons musiek om gemeenskappe te verenig en by te dra tot ’n waardige saak – die Covid-19-pandemie en sy gevolge.”

Die optrede deur DJ Shimza word tussen 16:00 en 18:00 uitgesaai op MTV Base South Africa, DStv kanaal 322.

Vanjaar is 106 komberse, 17 sagte speelgoed, 38 truie, 54 mussies, 21 pare sokkies en 16 pare bedsokkies gebrei deur die vroue van die Southfield Library Knitting Club, en aan Gift of the Givers oorhandig sodat dit aan ’n plaaslike kinderhuis geskenk kan word.

“Dit wys ware Madiba-gees, omdat die gemeenskap bymekaargekom het om hul tyd, talent en materiale te gee om die lewe van minderbevoorregtes te op te vrolik,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

DJ Shimza en die Springbok-rugbyspeler Siya Kolisi gesels oor die geleentheid wat Saterdag in die Robbeneiland-museum gehou word.Foto: Verskaf

Community Chest, ’n organisasie sonder winsbejag, sal vanjaar deurry-donasies aanvaar. Mense word genooi om warm klere, komberse, skoene, nie-bederfbare voedselitems en enigiets anders Saterdag na die Every Nation-kerk op die hoek van Prince George-rylaan en Retreatweg in Grassy Park te bring.

Mense kan per fiets of motor ry en die items aflaai. Almal word versoek om maskers te dra.

Die #ImStaying-groep, wat veral aktief is op Facebook, wil eer betoon aan Mandela deur die wiskundevaardigheid van minderbevoorregte leerlinge oor die land heen te verbeter.

Die groep, gestig deur Jarette Petzer, het die 67m2-veldtog op die crowdfunding-platform, BackaBuddy, begin om geld in te samel om vir kinders wiskunde te leer.

Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, gaan Saterdag saam met Zelda la Grange, Mandela se voormalige assistent, en die Kolisi-stigting 27 000 maaltye oorhandig aan gemeenskappe in nood in die Overstrand- munisipale gebied.

Luidens ’n verklaring word die etes die naweek verder versprei met behulp van finansiering deur die borge en donasies. “ ’n Skenking van R225 is genoeg om aan 67 mense elkeen ’n warm maaltyd te verskaf.”

Saterdag neem Mnqasela ook deel aan ’n Mandeladag-geleentheid wat deur die Kasi Angels-stigting gekoördineer word. Daar word industriële skoene aan 67 noodwerkers in die Hermanus-hospitaal gegee.

Dr. Cleeve Robertson, hoof van die NSRI, sê “as die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) vier ons Mandela se lewe en nalatenskap elke dag op ’n manier wat blywende verandering teweeg sal bring in die lewe van diegene wat deur ons gered word.

“Die NSRI was in die eerste helfte van die jaar (Januarie tot Junie) heeltyds aan diens om die mense te red en te beskerm, en het reeds 554 keer reddingsoperasies gedoen, gemiddeld 90 per maand.

“Net vanjaar het NSRI-vrywilligers honderdduisende minute van hul tyd gegee om mense aan die kus en in die binneland te red – en hulle sal dit ook op Mandeladag doen.”

• Zindzi Mandela (59) is Vrydag in die Fourways Memorial Park in Johannesburg begrawe nadat sy Maandag in ’n hospitaal in Johannesburg dood is. Sy was 59 jaar oud.

Sy het die koronavirus onder lede gehad.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Zindzi Mandela  |  New York  |  Verjaardag  |  Mandeladag  |  Oorlede  |  Wêreldwyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.