Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Masels: Kry inenting, of bly tuis

Kinders jonger as 18 wat nie teen masels ingeënt is nie, is in ’n distrik naby New York vir 30 dae verbied om skool toe te gaan. Hulle mag ook nie winkelsentrums, restaurante en selfs kerke besoek nie.

Oortreders van die verbod kan aangekla word en tot ses maande tronkstraf kry, berig SkyNews.

Die stap is gedoen te midde van ’n uitbreking van masels in die Rockland-distrik.

Ed Day, uitvoerende hoof van die distrik, sê hy dink nie so ’n drastiese stap is al voorheen in Amerika gedoen nie. Dit volg op berigte dat gesondheidswerkers teenstand kry wanneer hulle gevalle van masels ondersoek.

Dit is die ergste uitbreking van masels sedert die siekte in 2000 amptelik in Amerika uitgewis is.

Die siekte raak ortodokse Jode die meeste omdat inentingsvlakke in dié gemeenskap die laagste is.

Volgens Day is net 73% van kinders in die distrik ingeënt. Hy waarsku mense sal verantwoordelik gehou word as hulle die noodmaatreël oortree.

Dit is die ergste uitbreking van masels sedert die siekte in 2000 amptelik in Amerika uitgewis is.

’n Regter het vroeër vandeesmaand ouers se versoek van die hand gewys toe hulle om toestemming gevra het dat hul oningeënte kinders moet teruggaan skool toe. Die ouers het aangevoer hul kinders se grondwetlike regte word geskend. Die regter het bevind dit is in die openbare belang dat die kinders nie skool toe gaan nie.

Ed Day kondig die noodtoestand oor masels in die Rockland-distrik af. Foto: Peter Carr/The Journal News

Daar is reeds 150 bevestigde voorvalle in Rockland en 180 in New York. Meer as 82% van die pasiënte is nie ingeënt nie. Verreweg die meeste pasiënte is jonger as 18 jaar oud, berig The Washington Post.

Day sê daar word van ouers verwag om hul kinders te laat inent. Die owerhede gaan nie spesifiek probeer om kinders wat nie ingeënt is op te spoor nie, maar indien die verbod opgehef word, sal dit na die aanklaer verwys word. Die oortreding is strafbaar met ’n boete van $500 of ses maande tronkstraf.

“Niemand hou daarvan dat die kinders nie in die skool is nie, maar die reëling is suksesvol,” het Thomas Humbach, ’n prokureur van die distrik, aan die plaaslike koerant Journal-News gesê.

Masels is ’n hoogs aansteeklike virus en kan ernstige nagevolge hê, soos longontsteking, breinskade en verlies aan gehoor. Dit kan pasiënte se dood veroorsaak.

Meer oor:  New York  |  Masels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.