Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Massa-sterftes’ weens veldbrande in VSA gevrees

Soekspanne het Sondag voortgegaan om na lyke te soek in die verskroeide puin wat reusagtige veldbrande in drie van die westelike state van die VSA agtergelaat het.

Miljoene hektaar het in die laaste weke afgebrand en daar is vrese van “massa-sterftes” in die deelstaat Oregon.

Die skielike veldbrande in die deelstate Oregon, Kalifornië en Washington het sedert vroeg Augustus derduisende huise en ses klein dorpies vernietig oor ’n gebied so groot soos Gauteng.

Minstens 26 mense het reeds gesterf.

Kate Brown, die goewerneur van Oregon, het die brande bestempel as ’n verskynsel wat “een keer in ’n generasie” voorkom.

Andrew Phelps, die direkteur van Oregon se rampbestuurkantoor, het gesê die owerhede staal hulself vir die moontlikheid van “massa-sterftes”.

“Daar gaan heelparty sterftes wees van mense wat nie die waarskuwings betyds gekry het nie en wat nie hul huis betyds kon ontruim en na veiligheid vlug nie,” sê Phelps.

Minstens ses mense is die afgelope week dood en volgens Brown word tientalle mense nog in die staat se drie distrikte vermis.

’n Brandweerwa wat vernietig is nadat vlamme Detroit, ’n dorp in Oregon, verswelg het. Slegs die poskantoor en die mark in die dorp se sakedistrik is nog staande. Foto: Albany Democrat-Herald via AP

Teen Saterdag het 27 brande nog oor sowat 1,47 miljoen ha in Oregon en Washington gewoed, het die buro vir grondbestuur op Twitter gesê.

In die suide van Oregon het ’n apokaliptiese toneel van verkoolde skakelhuise en woonwaparke kilometers ver langs die hoofweg gestrek.

In Kalifornië het tienduisende brandbestryders probeer om 28 groot veldbrande te blus, sê die Kaliforniese departement van bosbou en brandbeskerming.

Gunstige weersomstandighede het hulle gehelp om die brand in ’n mate te beperk.

Volgens ’n verklaring van die Withuis sal pres. Donald Trump vandag met federale en Kaliforniese owerhede vergader.

Trump sê die goewerneurs van die westelike state moet deels die blaam dra vir die intense brandseisoene van die laaste paar jaar. Hy beskuldig hulle daarvan dat hulle bosbougebiede swak bestuur.

Joe Biden, Trump se Demokratiese teenstander in November se presidentsverkiesing, het die verwoestende brande toegeskryf aan aardverwarming en opmerkings van Gavin Newsom, Kalifornië se goewerneur, daaroor beaam.

Meer as 4 000 huise en geboue het oor die afgelope drie weke in Kalifornië afgebrand.

In Portland, waar meer as 100 dae se politieke betogings toenemend plofbaar raak, het inwoners van die Multnomah-distrik hul eie padversperrings opgerig en voertuie deurgesoek nadat samesweringsteorieë dat lede van Black Lives Matter of Antifa die brande opsetlik stig, op sosiale media versprei is.

Facebook het Saterdag gesê hy sal die bewerings dat sekere groepe vir die brande in Oregon verantwoordelik is, verwyder. – Reuters

Meer oor:  Amerika  |  Oregon  |  Sterftes  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.