Theresa May, Britse premier, het aan haar topministers gesê hulle moet Brexit deurvoer en nie eens daaraan dink om op ’n manier in die Europese Unie (EU) te bly nie.
Ná ’n somer van politieke aardbewings en ’n paar weke van vakansiekalmte het May haar ministers byeengeroep nadat sy hulle gevra het om in die vakansietyd te dink aan moontlikhede vir Brittanje se bande met die EU ná die skeiding.
Die EU het May tyd gegee om voor te berei vir die onderhandelings oor Brexit, maar wil hê die gesprekke moet begin om die onsekerheid te beëindig wat beleggings belemmer.
“Ons sal kyk na geleenthede tot ons beskikking terwyl ons ’n nuwe rol vir Brittanje in die wêreld skep,” het May gesê.
Sy het volgens haar woordvoerder gesê sy sal art. 50 van die Lissabon-verdrag om die onttrekking in werking te stel nie voor volgende jaar in werking stel nie sodat sy tyd kan hê om strategieë uit te werk ten einde die beste moontlike uiteinde vir Brittanje te verseker.
Die ergste skok oor die Britte se besluit op 23 Junie om die EU te verlaat, het bedaar en daar is aanduidings dat ekonomiese vertroue toeneem.
May verwag van haar kabinetslede om verskille te oorkom oor of Brittanje die gemeenskapsmark moet verlaat om beheer oor immigrasie te verseker of om ’n kompromis te tref.
Sy het die departemente wat ten nouste betrokke sal wees by Brexit, insluitend handel en buitelandse sake, toevertrou aan mense wat sterk voorbrand gemaak het vir Brexit.
Maar aan die ander kant het sy mense wat hulle beywer het vir voortgesette lidmaatskap van die EU in kernposte aangestel, soos Philip Hammond, wat minister van finansies is.
The Telegraph het berig dat die twee groepe verskil oor Hammond se idee dat toegang tot die gemeenskapsmark op ’n sektorgrondslag behou kan word sodat Brittanje byvoorbeeld sy gunstige posisie in die finansiële sektor behou.
David Davis, minister verantwoordelik vir die onttrekking aan die EU, en Liam Fox, minister van arbeid, meen na berig word albei Brittanje kan immigrasie net beheer as die land die EU verlaat. – Reuters