Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
May moet terug na EU, geen uitstel vir Brexit

Brexit gaan nie uitgestel word nie en Theresa May, Britse premier, moet weer met die Europese Unie gaan onderhandel oor die Ierse agterdeur. 

theresa may
Theresa May Dinsdag aan die woord in die Britse Laerhuis. Foto: Reuters

Dit was Dinsdagaand ’n aand van hoogdrama in die laerhuis nadat daar oor sewe wysigings aan May se EU-egskeidingsplan gestem is.

In die voortslepende Brexit-chaos het May van LP’s verwag om dele van die ooreenkoms wat oor maande met die EU beding is, op te skeur. 

May het Dinsdag reeds met Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie, gepraat. Volgens politieke ontleders kan May moontlik ’n toegewing by die EU kry, maar wil die EU nie lyk asof hy maklik toegewings maak nie.

Nadat daar oor al sewe wysigings gestem is, was dit duidelik dat May met die steun van die laerhuis nou na Brussel, België, moet reis om dele van Brexit te heronderhandel. 

In een van die belangrikste stemmings van die aand is die Arbeider-LP Yvette Cooper se wysiging verslaan. Cooper het voorgestel dat art. 50 tot Desember uitgestel word indien daar nie teen einde Februarie genoeg steun vir May se Brexit-ooreenkoms in die laerhuis is nie. 

Die stempatrone het ook weer gewys hoeveel onderstromings daar in die hoofopposisie Arbeidersparty is. 

Brittanje sal op 29 Maart die EU verlaat. 

Die EU dring daarop aan dat die Ierse agterdeur – ’n versekering dat geen harde grens tussen Ierland (wat lid van die EU is) en Noord-Ierland – ontstaan ná Brexit nie. Brittanje wil hê die Ierse agterdeur moet beteken dat Noord-Ierland en die res van die Verenigde Koninkryk vir ’n beperkte tyd deel van die mark- en doeane-unie bly in die oorgangstydperk.

May het Dinsdagoggend gesê sy wil die parlement se steun hê om terug te gaan na Brussel en weer oor die Brexit-ooreenkoms te onderhandel.

Jeremy Corbyn,  leier van die Arbeidersparty, het ná die stemmery gesê hy is nou bereid om met May te praat. 

May het gesê sy sal die EU nader om wetlike veranderings aan die ooreenkoms aan te bring. 

Só het LP's oor wysigings gestem: 

1. Die voorstel van Jeremy Corbyn, leier van die hoofopposisie, dat ’n harde Brexit van die tafel gevee word. 

LPs het dit met 327 stemme teen 296 verwerp. 

2. Die Blackford-wysiging: Die Skotse SNP en Walliese Plaid Cymro-wysiging voer aan art. 50 moet uitgestel word en dat ’n harde Brexit van die tafel gevee word. Die wysiging beklemtoon dat die Skotse en Walliese parlemente oorweldigend teen May se Brexit-ooreenkoms gestem het. Skotland wil ook deel van die EU bly. 

LPs het die wysiging met 327 stemme teen 39 verwerp. 

3. Die Grieve-wysiging: Die wysiging stel hom ten doel dat die parlement vir ses dae oor Brexit debatteer en stem oor ’n alternatief vir Brexit. 

LP's het die wysiging met 321 stemme teen 301verwerp.

4. Die Cooper-wysiging: Yvette Cooper se voorstel om art. 50 tot einde Desember uit te stel indien May nie einde Februarie genoeg steun vir haar ooreenkoms in die laerhuis kon kry nie. Dit sal die laerhuis meer tyd gee om oor Brexit te onderhandel.

LPs het die wysiging verwerp met 321 steme teen 298. LPs kan dus nie May se Brexit-ooreenkoms vertraag as dit nie teen 26 Feburarie goedgekeur is nie. 

5. Die Reeves-wysiging: Dié voorstel deur die Arbeiders-LP Rachel Reeves wil art. 50 met twee jaar uitstel indien daar teen 26 Februarie nog steeds geen Brexit-ooreenkoms is nie. 

Ook diéwysiging is verwerp met 322 stemme teen 296. 

6. Die Spelman-wysiging: Dié voorstel is simbolies en kan nie opgedwing word nie. Die wysiging behels dat Brittanje nie die EU sonder n ooreenkoms kan verlaat nie.

LPs het met n meerderheid van 8 ten gunste van die wysiging gestem, hoewel dit nie wetlik afdwingbaar is nie. 318 LP's het ten gunste van die wysiging gestem en 310 daarteen. 

7. Die Brady-voorstel wat aan May die mandaat in die laerhuis sal gee om haar in staat te stel om weer met die EU te onderhandel en die agterdeur met alternatiewe voorstelle te vervang. Die EU het hom reeds teen die Brady-voorstel uitgespreek. Die Brady-voorstel het die steun van die ERG van sowat 50 Tories wat hulle vir n harde Brexit beywer. Ook die DUP, die Tories se Noord-Ierse koalisievennote, steun die Brady-wysiging.

Dié wysiging is met 'n meerderheid van 16 stemme aanvaar. 317 LP's het vir die wysiging gestem en 301 LP's daarteen. 

Bykomende bronne: SkyNews, The Guardian, The Telegraph

Meer oor:  Europese Unie  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.