Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
MDC kon nie bewys hoekom uitslae nietig is
Die regspan van die MDC-opposisieparty Woensdag met hul aankoms by die Zimbabwiese konstitusionele hof. Foto: AP

Die Zimbabwiese verkiesingsuitslae moet ongeldig verklaar word omdat daar grootskaalse beweerde ongerymdhede met die stemtellery was.

Só het regslui vir die MDC Woensdag in die konstitusionele hof in Harare aangevoer.

Nelson Chamisa, leier van die MDC, het hom tot die konstitusionele hof gewend om die verkiesingsuitslae van 30 Julie te betwis.

Pres. Emmerson Mnangagwa, leier van Zanu-PF, het 50,8% van die stemme en Chamisa het 44,3% gekry.

Chamisa betwis die uitslae en sê daar was beweerde bedrog vanaf die Zimbabwiese verkiesingskommissie se kant.

Sewe mense is ná die verkiesing doodgeskiet toe die weermag losgebrand het op mense in Harare wat die strate ingevaar het.

Die Zimbabwe-polisie is Woensdag by die hof ontplooi en twee waterkanonne is ook voor die hofgebou gesien. Honderde mense het buite die hof saamgedrom in afwagting om te hoor wat die hof beslis.

News24 berig gemoedere het Woensdagmiddag hoog geloop toe hoofregter Luke Malabe die MDC se prokureurs gevra het hoekom die MDC nooit daarop aangedring het dat verkiesingshouers oopgemaak word om vas te stel of daar ongerymdhede was nie.

Sylvester Hashiti, ’n prokureur van die MDC, het aan die hof gesê daar was nie ’n wettige verkiesing nie.

Hashiti het gesê hulle kon nie binne die sewe dae ná die verkiesing al die bewyse insamel van beweerde ongerymdhede nie.

News24 berig adv. Thabani Mpofu, ook namens die MDC, het aan die hof gesê daar was “grootskaalse ongerymdhede” in die verkiesing.

Die Zimbabwe-polisie is Woensdag by die hof ontplooi en twee waterkanonne is ook voor die hofgebou gesien.

Hy het ’n verklaring aan die hof gelees waarin ’n vrou wat ’n beampte by ’n stempunt was, beweer dat ’n polisielid haar verjaag het tot nadat die stemme getel is.

Die hofverrigtinge is Woensdagoggend vertraag toe adv. Dali Mpofu en adv. Thembeka Ngcukaitobi van Suid-Afrika nie toegelaat is om die hofsitting by te woon nie.

Hulle het Dinsdagaand in Harare aangekom.

Mpofu en Ngcukaitobi is later wel in die hofgebou toegelaat, maar mag nie namens die MDC optree nie.

Adv. Lewis Uriri, namens Zanu-PF, het laat Woensdagmiddag gesê die MDC kon nie aan die hof bewys hoekom die verkiesingsuitslae nietig verklaar moet word nie.

Die nuusdiens AP berig die konstitusionele hof het toestemming gegee dat hofverrigtinge deur die Zimbabwe Broadcasting Corporation uitgesaai kan word. Die hof het Woensdag egter gelas dat die verrigtinge nie deur aanlynnuusdienste op die internet uitgesaai mag word nie.

Die hofsaak duur voort. Die hof sal na verwagting Vrydag sy beslissing lewer.

Meer oor:  Mdc  |  Uitslae  |  Verkiesing  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.