Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Meer as 1 400 SA’ners nog in buiteland gestrand

Minstens 1 471 Suid-Afrikaners is weens die Covid-19-pandemie oor die wêreld heen gestrand en kan nie na Suid-Afrika terugkeer nie.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sê daar is waarskynlik nog meer Suid-Afrikaners wat in dié situasie verkeer.

Die 1 471 is net diegene wat met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) in verbinding was.

Pandor het Dinsdagmiddag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê Dirco het ’n bevelsentrum by sy hoofkantoor in Pretoria ingerig om die Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand is, van hulp te wees.

Suid-Afrikaanse ambassades in die buiteland is opdrag gegee om te help waar hulle kan.

Dr. Naledi Pandor Foto: Sarel van der Walt

“Prioriteit word gegee aan dié wat op lughawens vasgekeer is, dié wat nie meer geld het nie, en bejaardes,” sê die minister.

Van die 1 471 wat met Dirco in verbinding was, is meer as 700 studente, meer as 200 mense wat oorsee werk, en die ander meestal toeriste wat gestrand is toe lande wêreldwyd – insluitende Suid-Afrika – vlugte na en van hul lande gestaak het weens die pandemie wat soos ’n veldbrand oor die wêreld heen versprei.

In hierdie stadium is daar nie planne om soortgelyke vlugte te reël soos dié wat onlangs ’n groep Suid-Afrikaners in Wuhan, China, gaan haal het nie.

Die regering het nie die geld om almal te help wat wil terugkeer nie.

Kommersiële lugdienste moet die mense wat reeds kaartjies gehad het toe die reisbeperkings in werking getree het, help.

Pandor sê die regering is wel tans in gesprek met verskeie ander regerings om vasgekeerde Suid-Afrikaners in hul lande te help.

Bly dalk liewer daar

Sy het die Suid-Afrikaners in die buiteland wat nie in nood verkeer nie, gevra om eerder daar te bly totdat die landwye staat van inperking in Suid-Afrika verby is.

Die minister het ’n beroep op dié mense gedoen om gehoor te gee aan die maatreëls van die lande waar hulle hul bevind.

Sy het ook ’n beroep gedoen op diegene wat dit kan bekostig, om op eie onkoste na Suid-Afrika terug te keer wanneer dit moontlik is. Sommige van die Suid-Afrikaners het aan Dirco gesê dat hulle self vliegtuie wil reël om hierheen terug te keer.

Die regulasies vir die nasionale staat van inperking maak voorsiening vir sulke vlugte, sê Pandor.

Sy het ’n beroep op reisagentskappe in die buiteland gedoen om reisigers behulpsaam te wees en hulle nie vir wins uit te buit nie.

Pandor sê almal wat in die land aankom, moet getoets word. Indien nodig, sal hulle in kwarantyn geplaas word.

’n Groep Suid-Afrikaners is tans steeds in Rome vasgekeer. “Dit is beter vir hulle om vir eers daar te bly sodat die Italiaanse owerhede na hulle omsien,” sê die minister.

Italië is een van die lande wat die ergste deur die pandemie getref is.

“Dit is dalk beter vir hulle om eers daar te bly. Dit kan gevaarlik wees as mense wat van hoërisiko-gebiede soos Italië hierheen terugkeer indien hulle die virus onder lede het.”

Fikile Mbalula, minister van vervoer. Foto: Felix Dlangamandla
Duitse regering help

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het op dieselfde mediakonferensie gesê die Suid-Afrikaanse Lugdiens sal op versoek van die Duitse regering Duitse burgers wat in Suid-Afrika gestrand is, na Duitsland terugneem.

Die Duitse regering sal daarvoor betaal.

“As daar Suid-Afrikaners in Duitsland is wat met die terugvlug hierheen wil saam vlieg, is hulle welkom. Burgers van ander lande sal egter nié op die vliegtuig toegelaat word nie.”

Hy sê die regering is tans ook in gesprek met die Britse regering om Britte wat hier gestrand is, daarheen terug te neem.

Mbalula sê hoewel alle internasionale en plaaslike vlugte van hier steeds verbied word, kan vliegtuie met spesiale magtiging van die regering steeds na en van Suid-Afrika vlieg. Dit is byvoorbeeld repatriasie-vlugte van Suid-Afrikaners wat deur die regering gemagtig is.

Vlugte vir mediese ontruiming, vliegtuie wat in nood verkeer en vliegtuie wat hier land om brandstof aan te vul, sal steeds toegelaat word om hier te land.

Die personeel van die meeste Suid-Afrikaanse lughawens is op ’n gereedheidsgrondslag vir gevalle waar vliegtuie in nood verkeer en hier moet land.


Noodsaaklike mediese toerusting

Sy kry nie die idee die ryk, ontwikkelde lande in die wêreld is teësinnig om asemhalingstoestelle aan ontwikkelende lande beskikbaar te stel nie, sê dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking.

Sy het op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê die ontwikkelde lande besef die koronavirus bedreig nie net hulle nie, maar die hele wêreld.

“Ons is almal deel van die stryd teen die virus. Suid-Afrikaanse wetenskaplikes help ook.

“Ek het verlede week ’n video-konferensie van die G20-leiers bygewoon en het glad nie die idee gekry dat hulle nie oor ons omgee nie.”

Duitsland en China is twee van die lande wat Afrika en spesifiek Suid-Afrika help.

“Ons het Suid-Afrikaanse maatskappye met die vermoë en die kundigheid gevra om te help met die vervaardiging van asemhalingstoestelle.

“Sover ek weet, is hier nog nie ’n tekort daaraan nie.”

Meer oor:  Naledi Pandor  |  Getalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.