Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Meer as 125 000 kaartjies vir kapt. Moore se 100ste

Kapt. Tom Moore, ’n 99-jarige Britse oorlogsveteraan van die Tweede Wêreldoorlog, vier Donderdag sy 100ste verjaardag en mense het wêreldwyd verjaardagkaartjies aan hom gestuur.

Hy het teen Woensdag al meer as 125 000 kaartjies ontvang.

Die 99-jarige kapt. Tom Moore nadat hy sy mikpunt behaal het om 100 keer om sy tuin te stap, waarmee hy meer as £29 miljoen vir die Britse nasionale gesondheidsdiens ingesamel het. Foto: Getty Images

Moore het meer as £29 miljoen vir die Britse nasionale gesondheidsdiens (NHS) ingesamel deur 100 keer om sy tuin te loop met behulp van ’n loopraam.

Mense het wêreldwyd sy vordering aanlyn gevolg, waardeur Moore onverwags die fokuspunt geword het vir skenkings aan die NHS te midde van die Covid-19-pandemie.

Hy het nie net sy aanvanklike teiken om £1 000 vir die NHS in te samel oorskry nie, maar ook die Guinness-wêreldrekord oortref vir fondsinsameling deur ’n liefdadigheidstaptog.

“Dit is die wonderlikste bewys van liefde vir ’n wonderlike man,” sê James Hodgson, skoolhoof van die nabygeleë Bedford-skool in Sentraal-Engeland, wat die groot taak het om die kaartjies oop te maak en te vertoon.

Die vloer van die skoolsaal is omgeskep in ’n see van welwillendheidsboodskappe, sorgvuldig uitgekies deur vrywilligers wat die afgelope week ure spandeer het om al die kaartjies te lees.

“Ons het kaarte van oor die hele wêreld gekry, nie net Brittanje nie. Ons het kaarte van tweejariges gekry, en ons het kaarte van 92-jariges gekry,” sê Hodgson.

Mandy Alison sit nog verjaardagkaartjies vir die oorlogsveteraan kapt. Tom Moore neer op die vloer van ’n skoolsaal waar dit uitgestal word. Foto: Getty Images

Daar kom steeds kaartjies aan, maar Hodgson sê die plan is om soveel moontlik daarvan te vertoon en ’n foto daarvan aan Moore te stuur.

’n Kaartjie wat die 11-jarige Rebekah van Suid-Wallis self teken het, lui: “Aan my held! Baie dankie vir alles wat jy gedoen het. Jy gaan baie mense help met die geld wat jy ingesamel het xx.”Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.