Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Meisie (14) se moord ná 32 jaar opgelos
Stephanie Isaacson

Die moord op ’n 14-jarige meisie in 1989 is uiteindelik Woensdag, 32 jaar later, opgelos.

Stephanie Isaacson, wat in Las Vegas vermoor is, se saak is uiteindelik deur middel van gevorderde tegnologie opgelos en forensiese kenners sê die 15 menslike selle wat gebruik is om haar moordenaar te identifiseer, is dalk die kleinste DNS-monster tot nog toe.

Volgens die BBC het die polisie Woensdag bekend gemaak dat hulle Stephanie se moordenaar kon identifiseer met behulp van genomiese samestelling en openbare genealogiese data.

Die vermeende moordenaar het in 1995 sy eie lewe geneem.

The Washington Post berig Stephanie is op die oggend van 1 Junie 1989 vermoor toe sy op pad was na die Las Vegas-hoërskool, waar sy skoolgegaan het.

Sy het haar normale roete skool toe gevolg, wat ’n kortpad oor ’n verlate stuk veld insluit. Haar lyk is later deur ondersoekbeamptes op dieselfde veld gevind. Sy is verwurg en seksueel aangerand.

Die saak was vir 32 jaar onopgelos, hoewel die DNS-monsters in dié tyd weer getoets is.

Las Vegas Sun berig die DNS is in 1998 en 2007 weer getoets.

Kimberly Murga, direkteur van die forensiese eenheid by die Las Vegas-metro, sê die DNS-profiel is daarna op ’n nasionale databasis gelaai.

Nadat die polisie ’n skenking ontvang het, kon hulle weer die saak oopmaak en verdere ondersoek instel met die hulp van Othram, ’n laboratorium in Texas wat spesialiseer in die genetiese samestelling van DNS. Hulle spesialiseer ook in onopgeloste sake.

Volgens die BBC was daar vir hierdie spesifieke saak net 0,12 nanogram DNS beskikbaar om getoets te word. Met die hulp van genealogiese databasisse kon die laboratorium die 15 selle koppel aan die DNS-samestelling van Darren Roy Marchand.

Las Vegas Sun berig dat Marchand ’n verdagte in die moord op Nanette Vanderburg (24) was, drie jaar voordat Stephanie vermoor is. Hy was toe 20 jaar oud.

Marchand is toe vrygespreek as verdagte omdat daar te min bewyse teen hom was.

Sy DNS van die Vanderburg-saak is vergelyk met dié van Stephanie se saak en dit het ooreengestem.

David Mittelman, uitvoerende hoof van Othram, het aan die BBC gesê die ontdekking is vir hulle ’n baie groot mylpaal.

“Wanneer jy inligting van so min DNS kan kry, skep dit werklik die geleentheid vir baie ander sake wat voorheen as onoplosbaar beskou is, om uiteindelik uitgeklaar te word.”

Die maatskappy is tans besig om aan sake te werk van so ver terug as 1881.

Stephanie se ma, wie se naam nie genoem is nie, het Woensdag ook deur middel van ’n verklaring haar verligting oor die afhandeling van die saak uitgespreek.

“Ek is so bly hulle het uitgevind wie my dogter vermoor het,” sê sy in die verklaring wat Woensdag deur polisie aan verslaggewers voorgelees is.

“Ek het nooit gedink dat die saak uiteindelik opgelos sou word nie.”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.