Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Meningspeiling: ‘Boris op koers na oorwinning’

Volgens die jongste meningspeiling wil dit voorkom of Boris Johnson, Britse premier, se politieke waagstuk met ’n verkiesing kort voor Kersfees wel vrugte gaan afwerp.

Dit dui aan die Konserwatiewe Party gaan oor twee weke ’n volstrekte meerderheid behaal in die algemene verkiesing wat hy uitgeroep het.

Dit sal aan Johnson ’n mandaat besorg om Brittanje aan die Europese Unie (EU) te onttrek.

YouGov se peiling het bevind die Tories gaan 359 van die 650 setels inoes.

Boris Johnson

Indien dit wel gebeur, sal dit die beste uitslag wees wat die Konserwatiewe Party in ’n verkiesing behaal sedert Margaret Thatcher se sege in 1987.

YouGov was die enigste navorsingsmaatskappy wat die 2017-verkiesing se uitslag reg voorspel het toe Theresa May ’n groot deel van haar steun verloor het.

Anthony Wells, direkteur van politieke en maatskaplike navorsing by YouGov, het die uitslag van hul peiling – gekoppel aan ’n spesifieke ontledingsmodel – Donderdag bekend gemaak.

Daarvolgens wil dit lyk of steun vir onttrekking in gebiede wat reeds ten gunste van Brexit was, die laaste tyd verder gegroei het.

Steun vir ’n Tory-oorwinning het veral toegeneem in die noordelike streke van Engeland, stedelike gebiede in die westelike middellande en die mynbougebiede van die oostelike middellande.

Die Arbeidersparty, die grootste opposisieparty, behoort volgens YouGov 211 setels te wen – 41 minder as in die vorige verkiesing.

Die Skotse Nasionale Party (SNP) behoort 43 te kry en die Liberaal-Demokrate 13.

Volgens die vooruitskatting gaan Nigel Farage se Brexit-party en die onafhanklike kandidate geen setel wen nie.

YouGov maak van 100 000 onderhoude gebruik wat oor sewe dae gevoer is en bring kiesafdelings se demografie en nasionale syfers ook in berekening. Die ontledingsmodel is ontwikkel deur proff. Ben Lauderdale van die London School of Economics en Doug Rivers van Stanford-universiteit in Kalifornië.

Daar is bevind dat die Konserwatiewe Party 44 setels by die Arbeiders gaan afrokkel en twee van die Liberaal-Demokrate. Hy gaan ook die setel kry wat voorheen deur die speaker van die parlement beset was. Die speaker, John Bercow, het onlangs bedank.

Volgens die peiling behoort Johnson en die minister van buitelandse sake, Dominic Raab, maklik in hul eie kiesafdelings te seëvier.

Dominic Cummings, Johnson se senior raadgewer, het kort voor die bekendmaking van die opname se uitslag gesê talle peilings se uitslae gaan oor die volgende paar dae bekend gemaak word.

“Net sommige gaan bevind Boris gaan wen.

“Glo my, as iemand wat al aan baie veldtogte gewerk het – dinge is baie meer gelykop as wat dit wil voorkom. Daar is ’n besliste moontlikheid dat ons weer ’n parlement gaan hê sonder ’n volstrekte meerderheid,” het hy gesê.– Reuters

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brittanje  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.