Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mense van SA gestrand omdat Qatar nie hier mag land
Gerrit Coetzee wil graag weer in Nieu-Seeland by sy vrou Natasja wees. Foto: Facebook/Gerrit Coetzee

’n Hele paar Suid-Afrikaners is op verskeie plekke gestrand nadat die Suid-Afrikaanse regering alle vlugte van die Qatar-lugdiens verbied het om hier te land.

Beverley Schäfer, DA-LPW in die Wes-Kaap, het verlede week gesê die regering het alle vlugte van Qatar vir eers geblokkeer.

Maar die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het op 6 Mei gesê repatriasievlugte van Qatar-lugdiens is nie gestop nie en dat hulle geen ooreenkoms met die lugdiens gekanselleer het nie.

Intussen wil Gerrit Coetzee (46), ’n oud-Suid-Afrikaner wat nou in Nieu-Seeland woon, teruggaan na Nieu-Seeland waar sy vrou, Natasja, en twee kinders is.

Hy het op Facebook gepleit vir hulp om na Nieu-Seeland te gaan. Hy sit gestrand in Pretoria en het sy gesin sowat twee maande laas gesien.

Coetzee sê in die Facebook-inskrywing die departement van binnelandse sake het Qatar-lugdiens aangesê om nie mense met Suid-Afrikaanse paspoorte aan boord toe te laat nie.

Hy het op 6 Maart in Suid-Afrika geland om sy paspoort te hernu. Hy sou op 25 Maart, voor die nasionale staat van inperking, na Nieu-Seeland terugkeer, maar is in kennis gestel sy vlug is gekanselleer.

Coetzee was 24 jaar ’n polisiebeampte in Durban voordat hy in 2017 na Nieu-Seeland geëmigreer het om by ’n gevangenis te gaan werk.

Ian Humphries slaap op lughawestoele in São Paulo.Foto: Verskaf

Coetzee se volgende vlug was vir 16 Mei met Qatar-lugdiens geskeduleer. Die kaartjie het hom sowat R18 000 gekos. Coetzee sê hy het ’n brief aan die Nieu-Seelandse hoë kommissaris gerig en wag op terugvoer van die departement van binnelandse sake. Hy hoop sy vlug op 16 Mei sal glad verloop.

“Ons hele lewe is daar. Ek wil net weer by my vrou wees,” sê Coetzee.

Francois Humphries sê sy seun, Ian (43) wat in Jeffreysbaai woon, is in Brasilië gestrand. Hy het in Argentinië gaan vakansie hou.

Gerrit Coetzee se pleidooi om hulp om na sy familie in Nieu-Seeland terug te keer. Foto: Facebook/Gerrit Coetzee

Sowat tien dae gelede het hy die geleentheid gekry om van Argentinië na Brasilië te vlieg. Hy is sedertdien in São Paulo, waar hy op die lughawe se stoele slaap.

Francois sê sy seun het twee vluggeleenthede met Qatar-lugdiens uit São Paulo gehad. Albei is gekanselleer omdat die Suid-Afrikaanse regering glo weier om vir vliegtuie van Qatar-lugdiens landingsregte in Suid-Afrika te gee.

’n Anonieme bron van Kaapstad sê haar suster is in Nederland gestrand. Sy was veronderstel om Maandag na Suid-Afrika te vertrek met Qatar-lugdiens, maar haar vlug is ook skielik gekanselleer en na 15 Mei uitgestel.

Die persoon sê Suid-Afrika wil nie hê die vliegtuig moet land nie en die verskoning is dat hier nie genoeg kwarantynplekke is nie.

Navrae is gerig aan die departement van internasionale betrekkinge, maar daar was nog geen reaksie nie.

Meer oor:  Koronavirus  |  Gestrand  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.