Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Menseslagting eis 14 kinders: 'Dit was 'n ongeluk'

’n Menseslagting in ’n Engelssprekende gebied van Kameroen het tot die dood van 22 mense, waaronder 14 kinders, in ’n nedersetting gelei, het die Verenigde Nasies (VN) Maandag gesê.

António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, sê in 'n verklaring hy is "diep bekommerd oor berigte dat burgerlikes, wat kinders insluit, Vrydag dood is in 'n aanval op die nedersetting, Ngarbuh, in die noordweste van die land".

Hy doen 'n beroep op die regering van Kameroen om die voorval behoorlik te ondersoek en te sorg dat die skuldiges verantwoordelik gehou word.

AFP berig die weermag het bewerings deur 'n opposisieparty ontken wat die skuld vir die moorde op die weermag gepak het.

Cyrille Atonfack Guemo, weermagwoordvoerder, sê die sterftes was 'n "ongeluk".

Brandstof het volgens hom ontplof tydens gevegte tussen die weermag en Engelssprekende Separatiste.

Guterres versoek in die VN-verklaring die gewapende magte om internasionale humanitêre en menseregtewetgewing te respekteer.

"Die VN is reg om met al die rolspelers saam te werk om 'n politieke oplossing te kry vir die krisis in die noordweste en suidweste van die land," lui die verklaring.

Volgens James Nunan, plaaslike amptenaar van die humanitêre koördineringsagentskap OCHA, is was 'n swanger vrou ook onder die slagoffers en nege van die kinders wat doodgemaak is was onder vyf jaar oud, berig Al Jazeera.

Nunan is hoof van OCHA se kantoor vir die noordwes- en suidwes-streek, wat die tuiste is van die land se grootste Engelssprekende minderheid. Separatiste in die gebiede veg nou al drie jaar teen die sentrale regering, berig AFP.

Die Beweging vir die Hergeboorte van Kameroen, een van die land se opposisiepartye, sê in ’n verklaring: “Die diktatoriale regime en die opperhoof van die veiligheids- en verdedigingsmagte is hoofsaaklik vir dié misdade verantwoordelik.”

’n Sleutelfiguur in die separatistebeweging, Agbor Mballa, ’n prokureur, beskuldig in ’n boodskap op Facebook ook die “staatsverdedigingsmagte” van die moorde.

Die konflik, wat reeds drie jaar lank duur tussen Engelssprekende burgers wat probeer wegbreek van die Franssprekende Kameroen en ’n wegbreek­staat, Ambazonia, wil stig, het meer as 3 000 lewens geëis en meer as 700 000 mense het van hul huise gevlug, berig Reuters.

Meer oor:  Verenigde Nasies  |  Kameroen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.