Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
BREXIT: ‘Wesenlike veranderinge’ kom

Die Britse regering waarsku inwoners dat “wesenlike” veranderinge van Nuwejaarsdag vir hulle wag wanneer Brittanje finaal die Europese Unie (EU) verlaat.

Michael Gove, ’n lid van premier Boris Jonhson se kabinet, wat een van die voorbokke was om Brittanje se lidmaatskap van die EU op te sê, gee toe daar sal “enkele ontwrigtings” en “praktiese en prosessuele veranderinge” wees.

Hy het Britte wat na EU-lande reis aangeraai om omvattende reisversekering uit te neem. Hulle moet ook by hul selfoondiensverskaffers uitvind wat dit sal kos om hul selfone van Vrydag af in Europa te gebruik.

Intussen sal Britse parlementslede Woensdag in Westminster stem oor die Brexit-handelsooreenkoms van £660 milard wat die Britte en die EU op die vooraand van Kersfees bereik het.

Die laer- en hoërhuis van die Britse parlement sal sit om die nuwe ooreenkoms goed te keur. Net sowat ’n derde van parlementslede sal fisiek in die parlement wees.

Die res sal aanlyn aan die verrigtinge deelneem.

Johnson het erken die ooreenkoms skiet dalk tekort ten opsigte van die finansiële sektor se toegang tot Europese markte.

Europese parlementslede het op hul beurt Maandag in Brussel, België, waar die EU se hoofkwartier is, begin met gesprekke oor die moontlike voorlopig aanvaarding van die ooreenkoms wat op 24 Desember onderteken is.

Ursula von der Leyen, president van die EU-kommissie, sal die gesprekke lei.

In EU-geledere is daar groot ongelukkigheid omdat EU-parlementslede nie vooraf die geleentheid gehad het om die ooreenkoms goed te keur nie.

Hulle beskuldig Michel Barnier, die EU se hoofonderhandelaar, daarvan dat hy hulle nie deurentyd op die hoogte gehou het van die onderhandelinge met Brittanje nie.

Gove sê hoewel daar groot veranderinge wag, bied die onttrekking van Brittanje aan die EU beide “uitdagings en geleenthede”.

Hy het Britse maatskappye gewaarsku daar is baie min tyd voor Vrydag om hul voorbereidings te tref voordat Brittanje Donderdag van middernag nie meer deel van die EU is nie.

Gove het ’n beroep op Britse maatskappye gedoen om seker te maak hulle verstaan die nuwe maatreëls vir in- en uitvoer wat dan in werking tree. Verskillende reëls geld vir Noord-Ierland.

Kragtens die handelsooreenkoms kan Brittanje en die EU voortgaan om met mekaar sake te doen sonder dat bykomende belasting op goedere gehef word.

Die ooreenkoms beslaan 1 246 bladsye, sowel as ooreenkomste oor kernkrag, die uitruil van geklassifiseerde inligting en ’n reeks gesamentlike verklarings.

Die ooreenkoms is bereik ná maande se onderhandelinge waarin die handelsbetrekkinge en die kwessie van visvangregte die vernaamste hindernisse was.

Brittanje was vir 47 jaar deel van die EU.

Die toegewings wat Brittanje oor visvangregte gemaak het, het die visbedryf in Brittanje woedend gemaak en selfs ook in die geledere van die regerende Konserwatiewe Party.

Daar was wel teen Maandag tekens dat Johnson ná omvattende onderhandelinge daarin sal slaag om lede van sy party wat baie skepties oor die ooreenkoms is, se steun te kry.

Hy het die Britse publiek gepaai deur te sê Brittanje het daarin geslaag om ’n ooreenkoms oor vrye handel te bereik sonder om deur die EU se “regulatoriese en wetgewende invloedsfeer afgerem te word”.

Daar is wel nog onafgehandelde sake wat wissel van handel en dienste tot samewerking vir strafregtelike sake en veiligheid.

Kenners meen wantroue tussen die EU en Brittanje kan toekomstige betrekkinge bemoeilik.

– Saamgestel deur Sarel van der Walt. Bykomende bronne: BBC, The Guardian, Daily Mail en The Economist.

Meer oor:  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.