Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mnangagwa se inhuldiging uitgestel
Nelson Chamisa van die Movement for Democratic Change het ’n klag teen pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe se verkiesingsoorwinning ingedien. Foto:
Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe .Foto: Dan Kitwood/Getty Images

Sondag se inhuldiging in Harare van Zimbabwe se pas verkose president is uitgestel nadat Nelson Chamisa, Zimbabwe se hoofopposisieleier, Vrydag ’n klag oor Emmerson Mnangagwa se verkiesing by die land se konstitusionele hof aanhangig gemaak het.   

Thabani Mpofu, Chamisa se prokureur, het gesê hy het die konstitusionele hof gevra om die verkiesing op 30 Julie nietig te verklaar en dat sy hofaansoek beteken Mnangagwa se inhuldiging gestaak is.

Ziyambi Ziyambi, minister van justisie, het aan Reuters gesê dat die inhuldiging “nie meer gaan gebeur nie” totdat die saak afgehandel is. 

“Op grond van die bewyse wat ons aan die hof voorgelê het, vra ons . . .dat die hof die gepaste wenner sal aanwys en die gepaste wenner is my kliënt,” het Mpofu buite die hof aan verslaggewers gesê.   

“Alternatiewelik vra ons dat daar nog ’n verkiesing gehou word in ooreenstemming met die voorskrifte van die wet. Daar sal geen inhuldiging plaasvind voordat die hof oor die saak besluit het nie,” het Mpofu gesê.

Zimbabwe se grondwet vereis dat ’n kandidaat wat ’n verkiesing wil betwis, dit binne sewe dae ná ’n wenner aangewys is, in die hof moet doen.

Dié hof moet binne 14 dae die eis verwerp, ’n nuwe wenner aanwys of  ’n nuwe verkiesing aankondig.

Vrydag het die Verenigde Nasies (VN) en die Europese Unie (EU) hul kommer uitgespreek oor die beweerde onwettige deportasie, inhegtenisneming en vervolging van Tendai Biti, een van die land se opposisieleiers.

NewsDay in Harare het berig dat die VN en die EU ’n beroep op die Zimbabwiese owerhede gedoen het om Biti se veiligheid te waarborg. Dit nadat Biti se poging om politieke asiel in Zambië te kry Woensdag misluk het.

Dié voormalige Zimbabwiese minister van finansies is Donderdag deur ’n hof op borgtog van $5 000 vrygelaat. Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy openbare geweld ná die verkiesing van 30 Julie in die land aangehits het. Hy is streng borgtogvoorwaardes opgelê. Hy moet onder meer twee keer per dag by die polisie aanmeld en mag geen politieke vergaderings of die media toespreek nie.

Ook pres. Donald Trump van die VSA het vroeër volgens NewsDay gesê dat hulle die Zimbabwiese regering verantwoordelik sal hou vir Biti en ander opposisielede se veiligheid.

Geweld het kort ná die verkiesing in veral die hoofstad, Harare, uitgebreek nadat MDC-ondersteuners beweer het dat die verkiesingsuitslag bekook is. Die regering het soldate ontplooi wat ses betogers doodgeskiet het.

Mnangagwa, Zanu-PF-leier het volgens die Zimbabwe Electoral Commission (ZEC) 50,8% van die stemme in die presidentsverkiesing behaal en

Chamisa, leier van die MDC-alliansie, 44,3%.

Zanu-PF het ’n tweederdemeerderheid in die parlementêre verkiesing behaal. 

Volgens NewsDay wil die MDC-alliansie ook die uitslae van 21 kiesafdelings in die hof wil betwis. As dit suksesvol is, kan dit Zanu-PF se tweederdemeerderheid ongedaan maak.

Die Zimbabwiese The Herald het gister berig dat pres. Cyril Ramaphosa en pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana onder die leiers was wat reeds bevestig het dat hulle Mnangagwa se inhuldiging sou bywoon.   – NewsDay, SAUK, The Herald, ZBC News Online

* Saamgestel deur Llewellyn Prince

Meer oor:  Zimbabwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.