Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mosambiek en Tanzanië vat hande in stryd teen militante

Die stryd teen Moslem-militante in die noordelike Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek het ’n nuwe wending geneem.

Mosambiek en sy noordelike buurland, Tanzanië, het ’n ooreenkoms bereik om gesamentlik operasies uit te voer teen die insypelaars wat die afgelope drie jaar aanvalle in die olie- en gasryke Cabo Delgado loods.

Die nuusagentskap Reuters sê as deel van die ooreenkoms sal 516 van die militante wat in Tanzanië aangehou word aan Mosambiek uitgelewer word.

Van hulle is verlede week deur Tanzanië aangekeer voordat hulle die grens na Mosambiek kon oorsteek om hulle daar by die ander vegters aan te sluit.

Die militante, wat deur Isis gesteun word, het aanvanklik ’n vastrapplek in Tanzanië probeer kry, maar die Tanzaniese weermag en polisie het hulle verdryf.

Verlede maand het sowat 300 militante ’n nedersetting in Tanzanië naby die Rovumarivier, die grens tussen Tanzanië en Mosambiek, aangeval. Baie van die aanvallers is glo vroeër in Tanzanië gewerf.

Die militante, wat die Mosambiekse weermag die laaste paar maande baie grys hare besorg, beset onder meer die hawedorp Mocímboa da Praia, wat net sowat 60 km suid van die Rovumarivier en Tanzanië geleë is.

Personeel van die Internasionale Rooi Kruis-noodlenigingsorganisasie deel in die geweldgeteisterde noordelike Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek kos uit. Foto: Internasionale Rooi Kruis

Jasmin Opperman, ’n navorser van die Amerikaanse navorsingsinstansie Armed Conflict Location and Event Data Project (Acled), waarsku dat dié samewerking tussen Mosambiek en Tanzanië nie die probleem sal oplos nie.

“Dit is nie ’n goeie teken nie. Die weermagte van Mosambiek én Tanzanië is om menseregteskendings bekend,” sê sy.

“Die realiteit is Tanzanië wil nie die insypelaars op sy grondgebied hê nie. Samewerking is nodig, ja, en oorgrensoperasies is niks nuuts nie, maar dié samewerking gaan nie probleme oplos nie,” meen Opperman.

Cabo Delgado is in die verlede deur die Mosambiekse regering afgeskeep en dit het ’n teelaarde vir die militante geskep. Daar moet eerder op beter regering gefokus word, sê sy.

Die nuusbrief Mozambique News Reports and Clippings wat in Brittanje uitgegee word, berig ’n sleutelgeveg in Cabo Delgado is tans in die omgewing van die dorp Mueda, waar die Makondi-stam gesetel is.

Dié stam is die Frelimo-regering in Maputo goedgesind.

Militante het inwoners in dié omgewing verlede week al gewaarsku dat hulle die teiken van ’n aanval sal wees.

Die belangrikheid van dié distrik is die pad na Palma, die provinsiale hoofstad en die gasvelde. Dit is sowat 100 km van die see af.

Die Makondi-stam woon al die afgelope sowat 200 jaar op ’n plato wat sowat 250 m bo seevlak is. Hulle het hier kom woon om slawehandelaars te ontduik.

Die plato bestaan uit drie distrikte – Mueda in die weste, Muidumbe (waar militante sowat 50 mans en seuns onlangs onthoof het) en Mocímboa da Praia.

In laasgenoemde twee streke is die meeste mense Moslems.

Omdat die militante Mocímboa da Praia en sy omgewing beset, beheer hulle die N380-hoofweg noord van Pemba na die gasvelde en die omliggende eilande waar die gasvelde is, lui die nuusbrief.

Die besetting van dié gebied beteken die kraglyne na vier distrikte kan nou al etlike maande nie herstel word nie. Daar is ander paaie, maar dit is grondpaaie wat in die komende reënseisoen waarskynlik onbegaanbaar sal wees.

Meer oor:  Mosambiek  |  Tanzanië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.