Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mosambiek :‘’n Siek gevoel het in my maag begin posvat’

Die Suid-Afrikaner wat twee weke gelede in gevegte in die Mosambiekse kusdorp Palma dood is, het sy pa en broer se lewe gered toe hy deur ’n hinderlaag gejaag het – ten spyte daarvan dat hy swaar gewond was.

Meryl Knox en haar seun Adrian Nel.

Eers toe dit veilig was, het Adrian Nel gestop en sy pa en broer het hom agterin die voertuig gelaai waarin hulle gery het. Adrian, wat in die skouer en heup geskiet is, is kort daarna in sy pa se arms dood.

Voor hul jaagtog het Adrian boonop herhaaldelik sy lewe gewaag om ’n AK-47 in die hande te probeer kry sodat hulle iets gehad het om hulself mee te verdedig.

Adrian se broer, Wesley, en sy stiefpa, Greg Knox, is nog te getraumatiseer om oor die vreesaanjaende ondervinding te praat, maar Meryl Knox het Vrydag aan Rapport vertel van die hel waardeur haar gesin is en hoe haar 41-jarige seun deur Islamitiese rebelle in die noorde van Mosambiek doodgeskiet is.

‘Hulle het my mense net daar gelos.’

Meryl se man, Greg, en haar twee seuns uit ’n vorige huwelik, Adrian (Adi) en Wesley (Wes), bou al geruime tyd behuisingseenhede in Palma kragtens kontrak vir ’n maatskappy wat weer ’n kontrak met die Franse oliemaatskappy Total het. Greg en Meryl is getroud toe die twee seuns nog jonk was en albei beskou Greg as hul pa.

Meryl sê Adi is eintlik ’n beroepsduiker, maar omdat sy laaste kontrak nie verleng is nie, het hy sy broer en pa in Mosambiek gaan help. Hy het in Januarie – twee maande voor die aanval op Palma – daar aangekom.

Die Woensdagmiddag het ’n familievriend met Mosambiekse bande haar gebel om te vra of Greg oukei is, omdat hy hoor daar was ’n groot aanval op Palma. Sy het dadelik ’n “siek gevoel op my maag gehad”.

Adrian en sy stiefpa, Greg Knox.

“Ek het Greg drie keer probeer bel, maar net sy stempos gekry.”

Greg het uiteindelik om 21:00 daardie aand van iemand se satellietfoon geskakel en gesê hulle is by die Amarula-hotel, aan die noordelike buitewyke van Palma. “Hier is ’n hele klomp van ons wat van hier af verwyder gaan word,” het Greg gesê.

“Dit het my meer gerus gemaak,” sê Meryl.

Die broers Nel, Adrian en Wesley.

Die Donderdagoggend het Wes ’n boodskap gestuur om te sê hulle wag nog, maar daarna het sy nie weer van hom gehoor nie.

Op ’n plaaslike Palma-WhatsApp-groep het Meryl verneem dat daar begin is om sommige vroue en kinders te verwyder, maar daar was steeds geen nuus van haar mense nie.

“Omtrent 02:00 die oggend het ek wakker geword toe my selfoon biep. Dit was ’n stemnota wat iemand op die groep gedeel het van geweerskote wat onophoudelik klap.

’n Voertuigwrak op sy sy is ’n laaste, stille getuie van die tragedie.

“Dis hoe oorlog klink.

“Toe begin ek ten spyte van myself hoop verloor,” sê Meryl.

Teen die Vrydagoggend het baie van die mense wat in die hotel vasgekeer was, besef hulle sal moet probeer vlug en by die strand uitkom van waar hulle gehoop het hulle kan opgepik word.

Adrian op pad om ’n AK-47 uit ’n voertuig buite die Amarula-hotel te gaan haal.

Voordat dié konvooi vertrek het, het Adi probeer om ’n AK-47, wat in ’n voertuig buite Amarula se terrein gelê het, in die hande te probeer kry.

“Dit was uiters gevaarlik,” sê Meryl.

“Hy moes die kompleks verlaat en binne sig van die rebelle in die bosse loop om dit te kry.”

’n Vrou wie se pa ook in die hotel vasgekeer was, vertel verder: “Adi het drie keer teruggegaan om die wapen te gaan haal voordat hy uiteindelik daarmee teruggekom het.

“My pa ken wapens en hulle het die geweer vir hom gegee, maar daar was iets verkeerd met die slagpen, so dit was nutteloos.”

Meryl sê hulle het deurentyd gehoop op lugsteun van die Dyck Advi­sory Group (DAG) se helikopters.

“Sonder dit was hulle maklike teikens vir enigiemand wat in die digte bosse langs die pad wegkruip.

“My man, my seuns en die ander mense daar is in die steek gelaat deur die Mosambiekse veiligheidsmagte en deur die Suid-Afrikaanse regering. Hulle het my mense net daar gelos om vermoor te word.”

Meryl sê toe dit tyd geword het om te vlug het Adrian agter die wiel van een van die 17 voertuie in die konvooi ingeskuif. “In die kar was hy, Greg en Wes saam met nog ’n man.”

Net buite die hotel se hek het hulle in ’n lokval beland.

“Adi is twee keer geskiet, een deur sy skouer – wat sy hart moes getref het – en in sy heup. Ten spyte van sy erge wonde het Adi egter aangehou ry totdat hulle deur die lokval was. Toe hy nie meer kon nie het hy afgetrek.

“Wes het hom uitgetel en agter by Greg ingelaai.

“Greg en Wes het besef die pad is gevaarlik. Wes het Adi se lewelose liggaam in die kar gegroet en bedank dat hy hul lewe gered het. Toe gaan kruip hulle weg in die bosse.

“Dis waar helikopters van DAG hulle die volgende oggend gesien en opgepik het.”

Die helikopter-bemanning het later teruggevlieg en ook die lyk van haar seun gaan haal.

Wesley is nog te getraumatiseer om oor die voorval te praat, maar sê ook sy ouboet het sy lewe en dié van hul pa gered.

“Adi was ’n gelukkige, vry mens wat daarvoor gelewe het om almal om hom gelukkig te maak.

“Hy wou nie ’n begrafnis vol toesprake en trane gehad het nie, maar ’n partytjie op ’n strand met musiek en mense wat in blydskap sy lewe vier. Ons gaan dit volgende Saterdag doen; dis nog net nie seker op watter strand in KwaZulu-Natal nie.”

Intussen sukkel die familie met van die reëlings.

“Ons het nou Adi se doodsertifikaat gekry, maar daarop word aangedui hy is aan natuurlike oorsake dood,” het Meryl Saterdag van die Busamed Gateway-hospitaal in Umhlanga laat weet waar Greg met malaria opgeneem is.

“So, ons moet nou weer van voor af begin sukkel.”

Meer oor:  Mosambiek  |  Palma  |  Isis  |  Terrorisme  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.