Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mosambiek: Teregstelling in video veroordeel

’n Video het aan die lig gekom van Mosambiekse soldate wat ’n naakte vrou met ’n stok slaan en dan in die rug skiet wanneer sy probeer vlug.

Hulle skiet haar daarna op teregstellingstyl langs ’n teerpad dood.

’n Soldaat slaan haar met ’n stok oor die lyf en kop voordat van die ander op haar losbrand. Hulle sê ook in die video dat sy doodgeskiet is.

Dit het ’n opskudding veroorsaak en die Mosambiekse weermag het die voorval gister veroordeel.

Amnestie Internasionaal sê die mans was in volle weermaguniform geklee en het 36 skote op haar geskiet.

In die video, wat Maandag op sosiale media versprei is, kan gehoor word die soldate noem die vrou “Al-Sjabaab”, die naam van die ekstremistiese Islamitiese groep wat sedert 2017 in die noorde van die uitgestrekte buurland bedrywig is.

Die video is in die provinsie Cabo Delgado verfilm waar die weermag die laaste paar maande in ’n gewapende stryd teen dié Islamitiese groep gewikkel is.

Groot nuwe gasontwikkelings, onder meer deur die Franse maatskappy Total, vind tans daar plaas.

Reuters het die ligging van die voorval bevestig deur bakens op die agtergrond met satellietbeelde te vergelyk wat in Junie van dié gebied geneem is.

Die nuusdiens kon nie die opnamedatum van die video bevestig nie.

Amnestie Internasionaal sê dit is waarskynlik op 7 September verfilm.

Volgens die organisasie het die vrou ’n vloek oor die weermag uitgespreek en geweier om die insurgente se skuilplek aan die soldate uit te wys.

Die weermag het gister in ’n verklaring gesê die beelde is skokkend, grusaam en afkeurenswaardig.

“Die FDS (weermag en veiligheidsmagte) herhaal dat hulle gekant is teen enige barbaarse dade wat neerkom op die skending van menseregte,” lui die verklaring.

Hoewel die FDS nie die voorval ontken nie, word ook gevra om ’n onafhanklike ondersoek na die egtheid van die video.

Amnestie Internasionaal het reeds verlede week aangevoer hy het video’s wat wys hoe soldate insurgente probeer onthoof, asook van martelings, lyke wat opgekap word en moontlik onwettige teregstellings.

Die Mosambiekse regering ontken die bewerings en sê die ekstremiste gee gereeld voor hulle is soldate. – Reuters

Meer oor:  Video  |  Mosambiek  |  Amnestie Internasionaal  |  Teregstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.