Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mosambiek ‘word Irak’ en steeds geen ingryping nie

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het twee weke gelede gevra vir ’n plan om sy betrokkenheid in die konflik tussen Mosambiekers en Islamitiese insurgente in dié land se Cabo Delgado-provinsie te verhoog, maar dit kan nog baie maande duur voordat die SAOG gereed is vir optrede, sê kenners.

Lede van die Mosambiekse weermag tydens ’n opleidingsessie in die bos. Foto: YouTube/Euronews

Sowat 2 400 mense is reeds dood en ’n halfmiljoen ontwortel sedert die Islamitiese terreurgroep Al Soennah wa Jama’ah (ASJ) in 2017 sy tentakels in dié provinsie ingeslaan het. Die insurgente kry steun van die Islamitiese Staat.

Volgens Martin Ewi, ’n analis van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), behels die SAOG se plan militêre ingryping deur lidlande.

Dit kan drie tot ses maande duur voordat die plan deur die lidlande goedgekeur word en daarna sal die SAOG eers die geld moet kry om ’n ingryping te kan finansier.

Tot dan is die inwoners van Cabo Delgado grootliks aan hul lot oorgelaat, sê Ewi.

Hy meen die SAOG se versoek vir ’n plan wys daar is hoop. “Dit vat tyd, maar dit is ’n duidelike sein van gewilligheid wat die SAOG uitstuur.”

‘Dit wys daar is hoop.’

Ewi sê Cabo Delgado is deesdae nes Irak in veiligheid­sones verdeel. Private militêre kontrakteurs (PMK’s) beman die sones saam met die Mosambiekse weermag.

Hy sê dié werkwyse teen die insurgente is nie ideaal nie. Ewi glo PMK’s moet vir ’n spesifieke doel aangewend word en nie breë beveiliging doen nie.

“Voer jou opdrag uit, word betaal en gaan huis toe. Anders word die PMK’s deel van die ekologie en ekonomie van geweld. Dis wat nou in Cabo Delgado gebeur. As ek eindeloos betaal word, gaan ek mos wil bly.”

Hy is ook bekommerd oor menseregtevergrype deur die insurgente, maar ook deur vigilantes, lede van die Mosambiekse weermag en gewone misdadigers. “Ons weet van baie voorvalle waar vergrype gerieflik onder die kombers van die insurgensie val.”

’n Ander veiligheidsbron sê: “Niemand weet meer hoeveel van dié aanvalle aan die insurgente toegeskryf kan word nie. Hoeveel is hulle en hoeveel was die weermag wat die situasie misbruik om die plaaslike bevolking aan te val en hul eiendom te buit?”

Intussen stroom skenkings vir opheffingswerk van oral in, sê Ewi.

“Ierland het net meer as $2 miljoen gegee, die Katolieke Kerk en Spanje het ook geld gegee. Dit sal help om die steun van die mense op voetsoolvlak te herwin, maar hoe meer tyd verloop voor ’n militêre ingryping deur die streek, hoe meer tyd en ruimte het die ASJ om te groei en sy vastrapplek te verstewig.”

Hy sê dis moeilik om die insurgente se getalle te bepaal.

“Ons raai daar is ongeveer 3 500 insurgente betrokke. Daar kan nie minder as dit wees nie; hulle kan nie doen wat hulle doen sonder minstens soveel vegters nie.”

Jasmine Opperman, ’n analis van die Universiteit van Pretoria se Armed Conflict Location & Event Data-projek, sê sy vrees ook Mosambiek gaan dieselfde pad as Irak stap. “Dis dalk reeds die geval. Ons sit met die mislukking van beleid.”

Opperman vrees ook Cabo Delgado gaan “te klein word” vir die ASJ.

Meer oor:  Mosambiek  |  Terreur  |  Islamitiese Staat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.