Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mosambiekers vergaap hul glo aan SA se ‘wit terroris‘

André Hanekom, die Suid-Afrikaner wat meer as twee weke gelede in raaiselagtige omstandighede in Mosambiek geskiet en ontvoer is, se prokureur het Vrydag ’n hofaansoek ingedien omdat elemente in die polisie weier om hom toe te laat om die hospitaal in Pemba te verlaat.

André Hanekom en sy vrou, Francis.

Dokters het ’n tydelike ontslagvorm vir Hanekom geteken in die aanloop tot ’n beplande operasie aan sy arm Woens­dag, maar die polisie het hom beveel om te bly net waar hy is.

Dié opdrag kom glo “van Maputo af”.

Die spanning van die afgelope twee weke se nagmerrie het Hanekom se bloeddruk so opgejaag dat sy operasie nie kon voortgaan nie, het sy vrou, Francis, moedeloos aan Rapport vertel.

Hanekom (61) is twee weke gelede by die Amarula-hotel in Palma noord van Pemba digby die Tanzaniese grens deur ’n groep mans met klapmusse gejaag en toe in die hotel se parkeerterrein gegryp. Hy is trompop met ’n pistool in die linkerarm geskiet. Die koeël het ook sy ribbes en maag getref. Hy is daarna agterop ’n bakkie geboender en was ’n dag lank vermis voordat Francis hom in ’n hospitaal in Mueda sowat 2,5 uur suidwes van Palma opgespoor het.

‘Ons raap en skraap al 26 jaar lank hier.’

Sedertdien het gebruikers van sosiale media woes gegis dat Hanekom, wat al 26 jaar ’n klein eiendom in Palma met ’n vasmeerplek bedryf, met “onderduimshede” in die gebied verbind word.

In die hospitaal word hy die heeltyd dopgehou en mense kom vergaap hulle aan die “wit terroris”, vertel sy ontstelde vrou.

Die gebied rondom Pemba loop die laaste ruk onder aanvalle deur. Ingeligtes vermoed dat elemente in die weermag en polisie Hanekom nou teiken.

“Ek weet nie eens presies watter polisie is dit wat hom 24 uur per dag bewaak nie, want hulle sê nie en dra ook nie uniform nie. Hulle slaap selfs in die hospitaalbeddens,” sê Francis.

“Die polisie het nou al alles omtrent André ondersoek, en al wat hulle teen hom kon kry, is dat hy in ’n regsdispuut met twee van sy sakevennote is. Een van hulle is ’n Amerikaner en die ander ’n Mosambieker.

’n Videogreep van Hanekom in die hospitaal in Mosambiek. Niemand word toegelaat om foto’s te neem nie.

“Sedert ons die Palma-marina meer as vyf jaar gelede geregistreer het, was dit grootliks André wat geswoeg en gesweet het om ’n bestaan te maak. Hy het enige los werk gedoen en bote verskaf namate die gasaanlegte op see ’n werklikheid begin word het. Van dié groot beleggers het sy dienste meer gereeld begin gebruik en laasjaar kon ons vir die eerste keer sedert ons in Mosambiek is ’n nuwe voertuig vir die marina aanskaf nadat ons ons eie een flenters gery het.

“Die vennote het skielik besluit dat daar nou baie geld in die gebied gemaak kan word en nou wil hulle André uit die pad hê. Dít is waaroor dié dispuut gaan. My man is nie betrokke by enige vreemde bedrywighede nie. Ons raap en skraap al 26 jaar lank om ’n lewe hier te maak,” vertel Francis.

Sedert Hanekom geskiet is, is sy arm in gips, maar die gebreekte bene is nie behoorlik gespalk nie. “Al wat ek wil doen, is om my man vir die naweek na ’n gastehuis te neem sodat hy kan rus.”

Die egpaar se prokureur het Vrydag ’n dringende hofaansoek in Pemba ingedien dat die polisie hom moet toelaat om ontslaan te word wanneer die dokters so sê.

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Maputo het intussen aan Mosambiek se minister van buitelandse sake geskryf om uit te vind wat die status van die saak en ondersoek is. Geen antwoord is egter tot dusver ontvang nie.

Meer oor:  Mosambiek  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.