Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mosambiekse verkiesing: Hiér kan Renamo wen

Mosambiek se meer as 13 miljoen kiesers het Dinsdag hul kruisies getrek in ’n belangwekkende verkiesing wat as ’n toets vir die twee maande oue vredesooreenkoms tussen die regerende party Frelimo en die opposisie Renamo beskou word.

Hoewel Frelimo waarskynlik die mag in dié presidensiële, parlementêre en provinsiale verkiesing sal behou, is die kanse goed dat Renamo, wat van 1977 tot 1992 teen Frelimo in ’n burgeroorlog geveg het, in sy tradisionele hartland in die sentrale en noordelike dele van die land goed sal vaar.

Dit sal die eerste keer sedert die beëindiging van die burgeroorlog wees dat Renamo hier kan wen.

Ontleders en menseregtegroepe het gewaarsku dat as Renamo nie in die sentrale en noordelike gebiede wen nie, vergroot die kanse vir geweldpleging.

Faksionalisme binne Renamo en die feit dat die gewildheid van sy leier, Ossufo Momade, aan die afneem is, kan teen Renamo tel.

Toe pres. Filipe Nyusi Dinsdagoggend in Maputo sy stem uitgebring het, het hy aan joernaliste gesê Mosambiekers eis vrede, berig Reuters.

mosambiek
’n Man stem Dinsdag in Maputo in die Mosambiekse verkiesing. Foto: Reuters

Islamitiese ekstremiste se aanvalle in die noorde van die land, nie ver van die ryk gasvelde wat Mosambiek in die toekoms een van die wêreld se grootste uitvoerders van gas kan maak, het ’n demper op Nyusi se presidentskap geplaas.

Ingevolge Frelimo en Renamo se vredesooreenkoms in Augustus is ooreengekom dat die party wat ’n provinsie wen, toegelaat sal word om self ’n goewerneur aan te stel en nie die nasionale regering in Maputo nie.

Die goewerneurs sal egter nie meer so magtig soos vroeër wees nie omdat die president vir elke provinsie ’n staatsekretaris sal aanstel wat met die verkose goewerneur sal saamwerk. Die staatsekretaris sal baie van die belangrike magte hê wat vroeër in die hande van die goewerneur was.

Sporadiese geweldpleging het in aanloop tot die verkiesing voorgekom. Dit sluit in die moord op ’n verkiesingswaarnemer en aanvalle deur ’n wegbreekgroep van Renamo.

Volgens ’n nieregeringsorganisasie is sewe mense gedurende die verkiesingsveldtog vermoor.

Van die 44 mense wat in totaal in dié tyd gesterf het, was weens motorongelukke of in ’n stormloop by ’n byeenkoms waar Nyusi gepraat het, berig Al-Jazeera.

Die Amerikaanse ambassade in Mosambiek het sy burgers gewaarsku om eerder die noordelike stad Nampula en Xai-Xai, hoofstad van die Gaza-provinsie, te vermy.

Momade is die gunsteling om die goewerneur van die Nampula-provinsie te word.

“Die rede vir die moord op Anastacio Matavel (’n waarnemer) was om ’n boodskap te stuur dat waarnemers nie welkom in die Gaza-provinsie is nie,” het Adriano Nuvunga van die Sentrum vir Demokrasie en Ontwikkeling in Maputo aan Al-Jazeera gesê.

Gedurende die registrasieproses voor die verkiesing in April het 300 000 meer kiesers (as wat volgens die sensus in dié provinsie woon) geregistreer.

Meer as 90% van die kiesers in dié provinsie stem gewoonlik vir Frelimo.

Kragtens die wet is dit toelaatbaar dat die verkiesingsuitslae binne 15 dae bekend gemaak word.

Die voorlopige uitslae word wel Woensdag verwag.

Meer oor:  Mosambiek  |  Frelimo  |  Renamo  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.