Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mugabe se lyk terug in Zimbabwe
Die lykstoet met die kis van wyle oudpres. Robert Mugabe verlaat die Robert Gabriel Mugabe- internasionale lughawe in Harare nadat Mugabe se lyk Woensdagmiddag uit Singapoer in Zimbabwe aangekom het. Foto: Reuters

Die oorskot van oudpres. Robert Mugabe is terug in Zimbabwe.

Die private straler wat sy lyk in Singapoer gaan haal het, het Woensdagmiddag kort ná 15:30 in Harare, die Zimbabwiese hoofstad, geland.

Pres. Emmerson Mnangagwa was op die Robert Gabriel Mugabe- internasionale lughawe om die vliegtuig in te wag.

Rooi tapyte het op die laaiblad gelê en soldate van die seremoniële wag het Mugabe se kis uit die vliegtuig op ’n begrafnisondernemer se trollie gelaai.

Die kis van oudpres. Robert Mugabe word deur lede van die seremoniële wag van die Zimbabwiese weermag en senior amptenare gestoot nadat dit uit die vliegtuig gelaai is. Foto: Reuters

’n Groot aantal van die voormalige guerilla-leier, wat vir Zimbabwe se onafhanklikheid in 1980 geveg het, se ondersteuners het ’n entjie weg toegekyk.

Die kis was in ’n Zimbabwiese vlag gedrapeer.

Grace Mugabe, Mugabe se weduwee, en adj.pres. Kembo Mohadi het die oorskot op die vlug uit Singapoer na Harare vergesel.

Mohadi is Vrydag, kort nadat die 95-jarige Mugabe in Singapoer dood is, in opdrag van Mnangagwa Singapoer toe om te help met die reëlings om Mugabe se lyk terug te bring Zimbabwe toe.

Mugabe, wat vir 37 jaar lank eers as eerste minister en toe as president die septer in Zimbabwe geswaai het, se lyk is vroeg Woensdagoggend in Singapoer onder groot mediabelangstelling van ’n lykshuis daar na die vliegtuig geneem.

Ondersteuners van oudpres. Robert Mugabe wag op die laaiblad van die Robert Mugabe- internasionale lughawe in Harare vir die aankoms van sy lyk uit Singapoer.Foto: AP

Die lykswa is deur polisiebeamptes op motorfietse begelei.

Al Jazeera berig ’n misdiens vir Mugabe is by die lykshuis gehou. Die diens is deur ’n Zimbabwiese priester gelei en deur familielede bygewoon.

Mnangagwa het ’n brief aan pres. Halimah Yacob van Singapoer gestuur waarin hy haar bedank vir die hulp wat dié eilandstad-staat aan Mugabe verleen het met sy siekte, het die kantoor van die Zimbabwiese president in ’n verklaring gesê.

Mugabe was sedert April in Singapoer, wat hy vroeër ook gereeld besoek het vir mediese behandeling.

Intussen is daar nog nie duidelikheid oor die begrafnisreëlings nie weens ’n geskil tussen Mugabe se familie en die Zimbabwiese regering, berig Reuters.

Mugabe het dit in sy testament duidelik gemaak hy wil nie in die heldeakker begrawe word nie, maar in sy tuisdorp.

Mugabe het as ’n verbitterde man gesterf. Hy was diep ontevrede oor die wyse waarop Mnangagwa en ZANU-PF, sy eie party, hom in 2017 in die rug gesteek en met die hulp van die Zimbabwiese weermag uit die kussings gelig het.

Die lykswa met die lyk van oudpres. Robert Mugabe verlaat Woensdagoggend die lykshuis in Singapoer waar dit sedert sy dood Vrydag gehou is. Foto: AP

Die BBC berig egter Mugabe, wat ná sy dood verlede week deur Mnangagwa amptelik tot ’n nasionale held verklaar is, se oorskot sou na Zvimba, die oudpresident se tuisdorp wes van Harare, geneem word vir ’n nagwaak Woensdagnag.

Daarna sal sy lyk teruggeneem word Harare toe waar hy in die Rufaro-stadion in die Mbare-woongebied in staatsie sal lê.

Mugabe het in April 1980 in dieselfde stadion sy ampseed as die eerste demokraties verkose eerste minister van Zimbabwe afgelê.

’n Amptelike staatsbegrafnis sal dan Saterdag in Harare gehou word voordat Mugabe Sondag in Zvima in ’n private seremonie ter ruste gelê sal word, aldus die BBC.

Pres. Cyril Ramaphosa en ’n senior afvaardiging van sy regering en die ANC sal die staatsbegrafnis Saterdag bywoon. Verskeie ander buitelandse leiers word ook verwag.

Julius Malema, EFF-leier, sê hy sal ook daar wees.

Hy het Mugabe vandeesweek beskryf as ’n “leier en ikoon” en bygevoeg niemand sal aan hom (Malema) voorskryf wie hy mag eer en wie nie.

Malema sal een van die sprekers wees, het die EFF Woensdag bekend gemaak. Dié party sal Donderdag in Soweto ’n gedenkdiens vir Mugabe hou.

Meer oor:  Robert Mugabe  |  Zimbabwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.