Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mustadafin voed nou 12 000 meer monde per dag

“Die nood was nog altyd daar, selfs voor die Covid-19-pandemie, maar dit het net gemeenskappe se lot vererger.”

So sê Nazley Rulument, woordvoerder van die Kaapse humanitêre groep die Mustadafin-stigting, wat al vir langer as 35 jaar sukkelende gemeenskappe uithelp.

Die Mustadafin-stigting help ook gemeenskappe in die Oos-Kaap en Zimbabwe.

Die Mustadafin-stigting het verlede naweek hulp gebring na inwoners van Touwsrivier nadat die koronaviruspandemie en die staat van inperking die gemeenskap hard getref het. Foto: Verskaf
Die Mustadafin-stigting het meer as 60 personeellede, uitsluitend vrywillige werkers. Foto: Verskaf

“Voor die pandemie het ons sowat 15 000 mense per dag kos gegee,” sê Rulument.

“Nou voed ons meer as 27 000 mense per dag en die nood is erger as ooit van te vore.”

Die Mustadafin-stigting help in sowat 50 gebiede in die Wes-Kaap, in onder meer Delft, Bellville, Khayelitsha, Manenberg en Nyanga.

In die Oos-Kaap verskaf hulle kos aan MIV-positiewe inwoners en in Zimbabwe help hulle mense in nood met klere en voedingskemas.

“Ons help enigiemand wat in nood is, met wat ons kan en met wat ons het,” sê Rulument.

Die stigting se kernfunksies is onderwys, gesondheidsorg, rampverligting, gemeenskapsontwikkeling en armoedeverligting.

As deel van sy armoedeverligting-funksie het die stigting nou ook begin fokus op plattelandse gebiede in die provinsie, met ’n span wat verlede naweek die Touwsrivier-gemeenskap in die Wes-Kaap gaan uithelp het nadat die pandemie en die nasionale staat van inperking ’n rampspoedige impak op inwoners gehad het.

Rulument sê baie van die plaaslike ondernemings wat werkgeleenthede vir mense geskep het, moes noodgedwonge hul deure sluit.

“Diegene wat gelukkig was om hul werk te behou, het salarisbesnoeiings gehad. Dit het groot druk op huishoudings gesit en mense het begin sukkel om met hul geld deur die maand te kom.”

Rulument sê die gemeenskap het die stigting om hulp gevra.

Die stigting het vyf terreine in Touwsrivier besoek, insluitend ’n ouetehuis wat 55 bejaardes huisves.

“Ons het speelgoed, boeke, klere, 1 500 gaar maaltye, 1 000 vooraf verpakte maaltye, 500 toiletware-pakkies en lekkergoed-bokse uitgedeel,” sê Rulument.

Ghairunisa Johnstone, direkteur van die Mustadafin-stigting, sê toe hulle die ernstige behoefte in Touwsrivier waarneem, moes hulle hand bysit.

“Ons doen wat ons kan om daaglikse basiese benodigdhede aan mense te verskaf,” sê Johnstone.

Van Maart tot Desember 2020 het die stigting 11 300 maskers, 4 649 147 maaltye, 23 353 kospakkies en 685 komberse uitgedeel. Hulle het ook 510 toiletware-pakkies, 1 300 koopbewyse, 3 000 koekies seep, 2 300 geskenke en 1 200 brode uitgedeel.

Shameemah de Jongh, die stigting se projekkoördineerder, sê hulle het beperkte middele, maar deur vennootskappe en skenkings kon hulle Touwsrivier se oproep om hulp beantwoord.

“Ek is bly dat ons op die grond in Touwsrivier was om aan die gemeenskap te wys dat hulle nie alleen of vergete is nie,” sê De Jongh.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Gemeenskappe  |  Kos  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.