Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Myeni: Nuwe video weerlê polisie in Hawaii se weergawe

Nuwe beeldmateriaal in die ondersoek na die omstandighede waaronder Lindani Myeni in Hawaii doodgeskiet is, weerlê waarskynlik die polisie se weergawe van die gebeure.

Myeni, ’n voormalige rugbyspeler van Suid-Afrika, is in April op dié Amerikaanse eiland doodgeskiet.

Jim Bickerton, die Myeni-familie se regsverteenwoordiger, het die egtheid van die nuwe beeldmateriaal in ’n onderhoud met eNCA bevestig.

Bickerton het aan plaaslike media in Hawaii gesê die nuwe beeldmateriaal weerlê die polisie se weergawe van wat die betrokke aand gebeur het.

Die video is afkomstig van ’n kamera by die deurklokkie van die huis waar die skietery plaasgevind het.

Lindani Myeni en sy vrou, Lindsay. Foto: Verskaf

Vroeër is berig dat die Honolulu-polisie Myeni op 14 April doodgeskiet het nadat hulle glo gereageer het op ’n 911-oproep waarin ’n inbraak aangemeld is.

Myeni se vrou, Lindsay, het ná haar man se dood volgehou dat die polisie se optrede neerkom op rassediskriminasie en dat haar man ongewapen was.

In die video (van net meer as drie minute) kan Myeni tussen 20:07 en 20:14 gesien word voordat hy geskiet is, berig TimesLive.

Myeni parkeer agter die motor van die twee inwoners (’n man en vrou) van die betrokke eiendom.

In die video kan gesien word hoe die twee die gebou binnestap, gevolg deur Myeni.

Hy het ’n tradisionele seremoniële Zoeloe-band om sy kop wat gewoonlik gedra word wanneer iemand ’n kerk of tempel besoek.

In sy onderhoud sê Bickerton dit bevestig dat Myeni onder die indruk was dat hy ’n plaaslike tempel in die omgewing besoek.

Myeni trek ook eers sy skoene uit voordat hy ingaan.

Sowat 40 sekondes later kom hy weer uit, en draai oënskynlik verbaas om terwyl ’n vrou by die deur met iemand op haar foon oor ’n inbraak praat.

Die video eindig, sekondes voor 20:10, waar Myeni voor die deur staan.

Volgens Bickerton is Myeni weer die huis in.

Die laaste video is tot en met 20:12.

“Myeni was drie minute en 10 sekondes binne. Ons weet wat in dié tyd gebeur het, want die 911-oproep begin om 20:09,” het hy gesê.

Die inhoud van die oproep is reeds in Mei bekend gemaak.

Daarin kan gehoor word hoe die vrou, glo dieselfde een as in die video, die situasie beskryf. Dit klink of sy gil en baie beangs is.

In ’n stadium hardloop die vrou buitentoe en skree: “Dit is hy! Dit is hy!”

Harde geluide op die agtergrond, vermoedelik toe Myeni geskiet is, kan gehoor word.

Die Star-Advertiser het op sy YouTube-kanaal ook video’s gedeel van die polisie se lyfkameras, waarin vier skote gehoor kan word.

’n Man se stem kan gehoor word. Hy sê: “Lê op die grond!”

Myeni vra dan twee keer “wie is jy?”, voordat nog ’n stem sê: “Skok hom! Skok hom!”

Eers nadat die skote afgevuur is, word gehoor hoe die polisie hulself identifiseer.

Meer oor:  Lindani Myeni  |  Hawaii  |  Video  |  Polisie  |  Skiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.