Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
N-Koreaanse staatsmedia tjoepstil oor land se leier

Die Noord-Koreaanse staatsmedia het Woensdag geen melding van die gesondheid van Kim Jong-oen, Noord-Korea se leier, gemaak nie en ook nie oor waar hy hom tans bevind nie.

Kim Jong-oen, leier van Noord-Korea, en pres. Donald Trump van Amerika. Foto: Reuters

Daar is groot internasionale bespiegeling oor sy gesondheid ná mediaberigte dat hy ernstig siek was ná ’n hart- en velprosedure.

Die staatsmedia het soos gewoonlik oor Kim se prestasies verslag gedoen en ook sommige van sy ouer of ongedateerde kommentaar oor kwessies soos die ekonomie gepubliseer. Kim se naam was oral in die koerant gepleister, maar daar was geen melding van waar hy hom bevind nie.

Suid-Koreaanse en Chinese amptenare en bronne vertroud met Amerikaanse intelligensie twyfel oor die egtheid van die mediaberigte dat hy ernstig siek was. Die Withuis het gesê dat hy die saak noukeurig dophou.

Pres. Donald Trump sê dat die berigte nie bevestig is nie en dat dit volgens hom nie geloofwaardig is nie.

“Ons sal sien hoe dit met hom gaan. Ons weet nie of die berigte waar is nie,” het Trump Dinsdag gesê.

Die bespiegeling oor Kim se gesondheid het aanvanklik ontstaan weens sy afwesigheid by die verjaardagvieringe van Noord-Korea se stigter en Kim se oupa, Kim Il-soeng, op 15 April.

Die Daily NK, ’n Suid-Koreaanse webwerf gefokus op Noord-Koreaanse sake, het laat Maandag berig dat Kim (36) op 12 April in die hospitaal opgeneem is, ’n paar uur voordat hy ’n hartprosedure sou ondergaan.

Dinsdag is ’n regstelling in Engels geplaas wat sê dat die inligting van net een bron in Noord-Korea kom en nie van veelvuldige bronne soos hulle vroeër berig het nie.

Daar word gesê dat Kim se gesondheid sedert Augustus verlede agteruitgegaan het weens swaar rook, vetsug en te veel werk en dat hy nou behandeling kry in ’n villa in die Mjohdjang-bergoord noord van die hoofstad Pjongjang.

“Dit lyk asof daar iets aan die gang is as ’n mens kyk na sy herhaalde afwesigheid verlede week,” sê Chad O’Carroll, uitvoerende hoof van die Korea Risk Group, wat Noord-Korea monitor.

“Dit blyk dat ’n gesondheidskwessie die logiesste verklaring hiervoor is, maar of dit hartverwant is, is te vroeg om te sê.”

CNN het Dinsdag berig ’n Amerikaanse amptenaar, wat nie geïdentifiseer is nie, sê dat Amerika “intelligensie monitor” dat Kim se gesondheid ná ’n operasie in ernstige gevaar is.

Dit blyk dat ’n gesondheidskwessie die logiesste verklaring hiervoor is, maar of dit hartverwant is, is te vroeg om te sê.

Twee Suid-Koreaanse regeringsamptenare het die CNN-verslag egter verwerp. China, die enigste belangrike bondgenoot van Noord-Korea, het ook die berigte ontken.

Robert O’Brien, Trump se veiligheidsraadgewer, het aan Fox News gesê die Withuis monitor die berigte “baie noukeurig”.

Kenners van Noord-Korea het gewaarsku dat nugtere feite oor Kim se toestand nie beskikbaar is nie, maar dat sy ongekende afwesigheid van die groot vieringe van sy oupa se verjaardag verlede week daarop dui dat iets verkeerd is.

Thae Jong-ho, voormalige Noord-Koreaanse adjunk-ambassadeur in Brittanje wat in 2016 na Suid-Korea uitgewyk het, sê die uitgebreide stilte van die staatsmedia is ongewoon omdat hy in die verlede vinnig was om vrae oor die status van sy leierskap uit die weg te ruim.

“Elke keer as daar omstredenheid oor (Kim) is, sou Noord-Korea binne dae optree om te wys hy leef en is gesond,” sê Thae in ’n verklaring.

Kim se afwesigheid by die verjaardagvieringe was veral “ongekend”, sê hy. Reuters


Meer oor:  Pres. Donald Trump  |  Kim Jong-Oen  |  Noord-Korea
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.