Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Namibië wil nie byt aan Duitse volksmoord-verskoning
Namibië se pres. Hage Geingob Foto: Nampa

Namibië en Duitsland kon ná vyf jaar se onderhandelinge steeds nie tot ’n vergelyk kom oor vergoeding vir die massamoord op duisende Herero’s en Nama’s tussen 1904 en 1908 in dié Afrikaland nie.

Pres. Hage Geingob het ’n onlangse aanbod deur die Duitse regering aan Namibië van die hand gewys.

Duitsland het dié land – die eertydse Suidwes-Afrika, oftewel Duitswes soos dit ook bekend was – van 1884 tot en met die Eerste Wêreldoorlog in 1915 beset.

Die land was daarna onder Suid-Afrikaanse beheer tot Namibië se onafhanklikwording in 1990.

Die uitwissing van sowat 100 000 Herero’s en Nama’s word deur sommige historici as die eerste volksmoord van die 20ste eeu beskou.

Namibië en Duitsland is al die laaste vyf jaar in gesprek oor ’n moontlike amptelike verskoning deur die Duitsers wat met meer ontwikkelingshulp gepaardgaan.

Dit lyk of dié gesprekke nou stoom verloor het.

The Guardian berig Duitsland se aanbod het glo sowat 10 miljoen euro beloop.

Die Namibiërs ontken egter dat ’n bepaalde bedrag ter sprake is.

Geingob het gesê die aanbod wat die Duitsers gemaak het, is nie aanvaarbaar nie en moet hersien word.

Tog het hy in ’n verklaring van die Namibiese presidensie gesê hy is tevrede met die vordering wat met die onderhandelinge gemaak word.

Die laaste ronde onderhandelinge het in Februarie in die Namibiese kusdorp Swakopmund plaasgevind.

Die Namibiese president sê die Duitse regering aanvaar politieke en morele verantwoordelikheid vir wat in die verlede gebeur het, en het ingestem om onvoorwaardelik apologie aan te teken.

Hoewel volksmoord ingevolge die Verenigde Nasies se konvensie oor volksmoord ’n strafbare misdaad is, het die Duitse en Namibiese regerings op ’n politieke skikking ooreengekom, sê Geingob.

Een van die haakplekke is dat die Duitse regering weier om die term “reparasies” te gebruik en verwys na “heling van (die) wonde” wat deur die volksmoord veroorsaak is.

Die twee lande is besig om sekere projekte onder die loep te neem wat in Namibië in werking gestel kan word.

Die projekte sal in sewe streke in die land wees en sluit onder meer in watervoorsiening, die elektrifisering van sekere landelike en buitestedelike gebiede, padnetwerk-konstruksie, huisvesting, onderwys, landbou-ontwikkeling en die verkryging van grond.

Dr. Zed Ngavirue, Namibië se spesiale volksmoordgesant, het aan die Windhoekse koerant Die Republikeingesê daar is nog nie oor ’n vergoedingsbedrag ooreengekom nie.

Ruprecht Polenz, die Duitse regering se spesiale gesant, het aan The Guardian gesê omdat gesprekke tussen die twee lande nog aan die gang is, is hy optimisties dat ’n oplossing gevind sal word.

“Duitsland wil sy morele en politieke verantwoordelikheid nakom,” het Polenz gesê.

Die Universiteit van Johannesburg se prof. Hennie Strydom, ’n kenner op die gebied van die internasionale reg, het in antwoord op Netwerk24 se vraag dat as ’n ooreenkoms bereik sou word, sou dit ’n presedent vir die res van Afrika skep, gesê ooreenkomste van dié aard het geen bindende mag op ander soortgelyke gevalle nie.



“Dis vir die partye in elke situasie om te besluit oor die hantering van elke eis en hoe dit opgelos kan word. ’n Geslaagde uitkoms in hierdie geval kan natuurlik ander lande aanspoor om ook vergoeding vir historiese wandade te probeer kry.

“Maar dit sal telkens afhang van die betrokke partye se bereidwilligheid om konsensus oor ’n gepaste remedie te vind,” het Strydom gesê.

Meer oor:  Namibië  |  Duitsland  |  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.