Navo (die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) moet herbesin oor hoe hy China en sy militêre opkoms hanteer, word in ’n verslag oor die hervorming van die organisasie gewaarsku.
Die verslag, “Navo 2030”, bevat 138 voorstelle en kom te midde van toenemende twyfel oor die doel en relevansie van die organisasie, wat pres. Emmanuel Macron van Frankryk verlede jaar as “breindood” beskryf het.
“China is nie meer die vriendelike handelsvennoot waarop die Weste gehoop het nie. Dit is die snelgroeiendste mag van ons eeu en Navo moet daarby aanpas,” het ’n Navo-diplomaat, wat die verslag al onder oë gehad het, gesê.
Hy het na China se aktiwiteite in die Noordpool en in Afrika asook na die land se groot beleggings in die Europese infrastruktuur verwys.
Navo word aangeraai om deur die beskerming van rekenaarnetwerke en -infrastruktuur 'n tegnologiese voordeel bo China te behou, het die diplomaat gesê.
Die verslag stel onder meer ook voor dat die organisasie met sy 30 lede nouer bande met nie-Navo-lande soos Australië opbou.
Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal van Navo, het gesê China se opkoms hou “belangrike implikasies vir ons veiligheid” in.
“China belê op ’n reuse-skaal in nuwe wapens. China kruip al hoe nader aan ons, van die Noordpool na Afrika. China deel nie ons waardes nie ... en probeer ander lande intimideer,” het hy op ’n nuuskonferensie gesê en bondgenote versoek om oor die kwessie te vergader.
Die verslag stel voor dat Navo se ministers van buitelandse sake op ’n meer gereelde grondslag vergader en dat die sekretaris-generaal se rol as internasionale bemiddelaar versterk word.
Navo se onderskeie ministers van buitelandse sake sal die verslag Dinsdag bespreek voordat dit aanstaande jaar aan die staatshoofde en regerings voorgelê word.
Hoewel pres. Donald Trump se “America First”-era tot ’n einde kom en Europeërs die presidentskap van Joe Biden verwelkom, is daar steeds spanning oor Navo se vermoë om effektief op te tree. – Reuters