Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Nawalni deel foto’s uit hospitaal, wil terugkeer na Rusland

Die Russiese opposisiepolitikus Aleksei Nawalni het Dinsdag ’n foto uit ’n hospitaal in Berlyn, Duitsland gedeel waar hy in die bed sit omring deur sy gesin.

Hy sê hy kan nou self asemhaal nadat hy verlede maand in Siberië vergiftig is.

Dié foto – die sterkste bewys nog van Nawalni se herstel nadat hy verlede week uit ’n koma gekom het – is gou opgevolg deur bevestiging van sy woordvoerder dat hy beplan om na Rusland terug te keer.

“Hi, dit is Nawalni. Ek mis julle almal,” het hy in die onderskrif aan sy volgelinge op Instagram geskryf. “Ek kan steeds skaars enigiets doen, maar gister kon ek heeldag op my eie asemhaal. Eintlik op my eie.”

Nawalni, die grootste teenstander van pres. Wladimir Poetin van Rusland, het op 20 Augustus ernstig siek geraak. Hy is na Berlyn geneem.

Die Duitse regering sê laboratoriumtoetse in drie lande het bevestig dat hy met ’n senugif vergiftig is en Westerse regerings het verduidelikings van Rusland geëis.

Moskou het die aantygings as ongegrond afgemaak.

Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, het Dinsdag herhaal dat Moskou bereid is om op te klaar wat met Nawalni gebeur het, maar die land benodig toegang tot inligting oor sy saak van die Duitse regering.

Hy het gesê die Russiese regering verstaan nie waarom, as Franse en Sweedse laboratoriums sy monsters kon toets, Rusland nie dieselfde toegang gegun word nie.

Dié geval het verdere druk op betrekkings tussen Rusland en die Weste geplaas, wat ’n nuwe laagtepunt bereik het sedert Moskou in 2014 die Krim vanaf die Oekraïne geannekseer het en die poging in 2018 om ’n voormalige Russiese dubbelagent met dieselfde senugif in Engeland te vergiftig.

In die foto verskyn Nawalni met sy vrou, Joelia, wat hom ondersteun en hul twee kinders.

Die Kremlin het Nawalni vir jare verag. Hy word nie toegelaat om ’n politieke party te stig nie, maar het Poetin die afgelope dekade die josie in gemaak met veldtogte wat korrupsie blootlê en die staatsbeheerde media systap deur sosiale media te gebruik. – Reuters


Meer oor:  Siberië  |  Rusland  |  Aleksei Nawalni  |  Vergiftiging  |  Opposisie  |  Politikus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.