Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Nawalni ‘kan hartaanval kry’ weens hongerstaking
Een van die laaste foto’s wat in Februarie vanjaar van Nawalni by sy hofverskyning geneem is voordat hy tronk toe gestuur is. Foto: Reuters

Die Russiese opposisiepolitikus Aleksei Nawalni, wat al twee weke lank op ’n hongerstaking is, se gesondheid het erg verswak.

Hy loop toenemend die risiko van nierversaking en sy sig het sedert die eetstaking baie agteruitgegaan, het ’n mediese vakbond Saterdag gesê.

Nawalni (44), ’n teenstander van Wladimir Poetin, Rusland se president, het op 31 Maart begin om kos te weier uit protes teen gevangenisowerhede wat hom glo nie behoorlik laat behandel het vir akute rug- en beenpyn nie.

“Sy toestand is inderdaad van kritieke belang,” het Alexandra Zakarowa, ’n verteenwoordiger van die vakbond Doktersalliansie, gesê. Die Russiese owerhede beskou die vakbond as opposisie-aktiviste.

Zakarowa het verwys na toetse wat deur Nawalni se prokureurs verkry is en sê lede van die vakbond het hom nie self ondersoek nie.

“Ons het die toetse gesien, en dit is baie, baie sleg,” het sy aan Reuters gesê.

“Sy kalium is hoog en hy het ander hoë lesings wat daarop dui dat sy niere binnekort kan faal. Dit kan tot ’n hartaanval lei,” het sy bygevoeg.

Dié foto van Aleksei Nawalni is op 17 Januarie geneem terwyl joernaliste rondom hom staan kort voor sy vlug na Moskou. Foto: AP

Rusland het Nawalni in Februarie tronkstraf van twee en ’n half jaar opgelê weens parool-oortredings. Hy is in hegtenis geneem toe hy uit Duitsland na Rusland teruggekeer het, waar hy herstel het van vergiftiging met ’n senu-middel.

Sowat 80 bekende skrywers, akteurs, historici, joernaliste en regisseurs, waaronder die skrywers JK Rowling en Salman Rushdie, het Vrydag ’n ope brief aan Poetin geskryf en hom versoek om te verseker dat Nawalni die dringende mediese sorg kry wat hy nodig het.

Gevangenisowerhede sê dat hulle Nawalni behoorlike behandeling aangebied het, maar dat hy dit geweier het en daarop aandring dat hy deur ’n dokter van sy keuse van buite behandel moet word, ’n versoek wat hulle nie toegestaan het nie.

Nawalni het Vrydag gesê die gevangenisowerhede het gedreig om hom in ’n dwangbuis te plaas om hom met geweld te voer, tensy hy sy hongerstaking laat vaar.

Meer oor:  Moskou  |  Aleksei Nawalni  |  Wladimir Poetin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.