Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Netanyahu se toekoms in weegskaal ná polisieverslag

Die polisie in Israel het Sondag aanbeveel dat Binyamin Neta­nyahu, eerste minister, op aanklagte van omkopery aangekla moet word.

Binyamin Netanyahu, Israelse premier. Foto: Reuters

Dié klagte vererger net Netanyahu se toenemende regsprobleme en vertroebel dié langdurende leier se kanse om volgende jaar herkies te word.

Netanyahu het die jongste beweringe ontken, maar sy lot lê nou in die hande van die prokureur-generaal, wat in die komende maande sal besluit of die eerste minister verhoor moet word op ’n rits korrupsie-aanklagte wat ’n rol in volgende jaar se verkiesingsveldtog kan speel.

Netanyahu het Sondag in ’n toespraak ’n siedende aanval op polisie-ondersoekers gedoen en die ondersoek ’n “heksejag” genoem wat “van die begin af besmet was”.

“Israel is ’n wetsgehoorsame land. En in ’n wetsgehoorsame land het polisie-aanbevelings geen regsgewig nie,” het hy aan aanhangers op ’n seremonie van die Likud-party gesê. Die grootste deel van sy halfuur lange vakansietoespraak is daaraan gewy om die beweringe te verwerp, en die uitbundige skare van honderde partylede het hulle agter hom geskaar.

Die polisie het Netanyahu Vrydag vir die twaalfde keer ondervra in verband met dié langdurende ondersoek.

Sondag se besluit het gevolg op ’n uitgebreide ondersoek wat gespruit het uit Netanyahu se verhouding met Shaul Elovitch, die beherende aandeelhouer van Bezeq, Israel se telekommunikasiereus.

Die polisie sê hulle het voldoende bewyse gevind dat vertrouelinge van Netanyahu reguleringsveranderinge ter waarde van honderde miljoene dollars ten gunste van Bezeq aangebring het. Hulle glo dat Netanyahu in ruil daarvoor sy verbintenis met Elovitch gebruik het om gunstige mediadekking te kry op Walla, Bezeq se gewilde nuuswebblad.

Die polisie sê in ’n verklaring hul ondersoek het tot die gevolgtrekking gekom dat Netanyahu en Elovitch ’n “omkoopgegronde verhouding” het.

Volgens die polisie is daar voldoende bewyse om Netanyahu en sy vrou, Sara, aan te kla dat hulle omkoopgeld aanvaar, bedrog gepleeg en die publiek se vertroue geskend het. Hulle het ook aanbeveel dat aanklagte teen Elovitch, lede van sy familie en lede van die bestuur van Bezeq ingedien word.

Dié besluit oor die aanbevelings is geneem nog voordat met die ondersoek begin is.

Die polisie het reeds aanbeveel dat Netanyahu op twee vroeëre korrupsiesake tereg moet staan. In die een geval het hy glo geskenke van miljardêr-vriende ontvang en die tweede wentel om beweerde voordelige wetgewing in ruil vir positiewe nuusdekking.

Die eerste minister het ontken dat hy enigiets verkeerds gedoen het.

“Die polisie se aanbevelings wat my en my vrou betref, is vir niemand ’n verrassing nie,” het Netanyahu in ’n verklaring gesê. “Dié besluit oor die aanbevelings is geneem nog voordat met die ondersoek begin is.”

Die polisie se aanbevelings het geen onmiddellike uitwerking op Netanyahu nie. Hulle gaan nou na Avichai Mandelblit, die prokureur-generaal wat hy met die hand uitgekies het, wat die materiaal sal nagaan en ’n finale besluit oor vervolging al dan nie, sal neem.

Daardie besluit sal ’n groot impak op Netanyahu se toekoms hê. Dit is onduidelik of hy sal moet afstaan as eerste minister sou hy wel aangekla word, hoewel ’n verhoor groot druk op hom sal plaas om dit wel te doen.

Israel moet teen November 2019 sy volgende verkiesing hou, maar Israelse regerings voltooi selde hul volle termyn.

Netanyahu is verlede maand byna verplig om ’n verkiesing uit te roep nadat ’n sleutelvennoot hom aan hul koalisie onttrek het uit protes teen ’n skietstilstand met die militante Pale-stynse groep Hamas in Gasa. Netanyahu lei nou ’n koalisie met ’n papierdun meerderheid van 61 in ’n parlement met 120 lede. – News24

Meer oor:  Israel  |  Omkopery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.