Nieu-Seeland, wat een van die lande is wat geprys is vir sy reaksie op die Covid-19-pandemie, het nog nie entstowwe goedgekeur nie.
Die land se grense bly egter gesluit, behalwe vir spesifieke uitsonderings vir mense uit Australië en die Stille Oseaan-eilandstreek vir tyd en wyl daar nog onsekerheid is oor die effektiwiteit van die entstowwe” het Jacinda Ardern, premier, Dinsdag gesê.
Ardern se uitgangspunt is dat reise eers toegelaat sal word wanneer daar sekerheid is dat mense van buite wat ingeënt is nie die virus plaaslik kan oordra nie, of dat genoeg van die plaaslike bevolking ingeënt word sodat hulle aan mense van buite blootgestel kan word.
“Albei moontlikhede gaan tyd neem.”
Die verwagting is dat die land ’n entstof teen vroeg volgende week sal goedkeur.
Ardern sê die land se mediese reguleerder, Medsafe, is in die proses om entstowwe van Pfizer en BioNTech goed te keur.
Die eerste entstowwe sal dan moontlik teen April in Nieu-Seeland aankom, hoewel die land gereed maak om dit vroeër te ontvang.
“Ons maak vinnig vordering om Nieu-Seelanders teen die virus in te ent, maar ons is ook absoluut toegewyd om seker te maak die entstowwe is veilig en effektief,” sê Ardern in ’n verklaring.
Ardern het die nuuskonferensie gehou op dieselfde dag wat dit bekend gemaak is dat ’n inwoner van die Noord-eiland positief getoets is vir die Suid-Afrikaanse variant van die virus. Dit is die eerste plaaslike virusgeval in die land in meer as twee maande.
The Sydney Morning Herald berig die 56-jarige vrou was in ’n hotel onder verpligte kwarantyn nadat sy in Desember na Nieu-Seeland teruggekeer het. Nadat sy haar kwarantyn op 13 Januarie voltooi het en negatief getoets is, het sy later, nadat sy talle openbare plekke besoek het, virussimptome getoon. Sy is op 23 Januarie positief getoets. Sy het die virus volgens die owerhede in die kwarantynfasiliteit opgedoen.
Australië het byna onmiddellik ’n reisverbod van 72 uur op reisigers uit Nieu-Seeland ingestel. – Reuters