Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Nóg kolonies pikkewyne in Antarktika ontdek

Satellietbeelde het gewys dat daar byna 20% meer keiserpikkewyn-kolonies in Antarktika is as wat voorheen gemeen is.

Wetenskaplikes het 11 nuwe kolonies ontdek. Dit beteken daar is nou 61 kolonies oor die kontinent, berig The Guardian.

Drie van die nuwe kolonies is voorheen geïdentifiseer, maar is tot nou toe nie bevestig nie. Verskeie kolonies is gevind op see-ys wat rondom ysberge in vlak water gevorm is.

Die ontdekkings, wat in die tydskrif Remote Sensing in Ecology and Conservation gepubliseer is, is gedoen toe die kenmerkende rooibruin ghwano-kolle wat die voëls op die ys agterlaat, gesien is. Die beelde met ’n hoër resolusie is gekry vanaf ’n nuwe satelliet, omdat vorige skanderings nie kleiner kolonies kon waarneem nie.

Die wetenskaplikes het beelde van die Europese kommissie se Copernicus Sentinel-2-satelliet gebruik om die voëls op te spoor. Die satelliet is deel van ’n program om die aarde en enige veranderinge in die omgewing waar te neem.

Luidens die verslag, wat Dinsdag gepubliseer is, is die nuwe kolonies “aan die rand van die keiserpikkewyne se broeiplek”, berig CNN.

Phil Trathan, hoof van bewaringsbiologie by die British Antarctic Survey (BAS) wat die afgelope drie dekades pikkewyne bestudeer, het gewaarsku dat die liggings van die pikkewyne waarskynlik deur klimaatsverandering beïnvloed sal word. Dit kan ’n ramp vir die groot voëls beteken, berig The Telegraph. Al die nuwe kolonies is in gebiede wat ’n risiko loop.

“Alhoewel die ontdekking van die nuwe kolonies goeie nuus is, is al die broeiplekke op plekke waar onlangse modelprojeksies daarop dui dat keiserpikkewyn-talle sal afneem.

“Voëls op hierdie terreine is waarskynlik die ‘kanaries in ’n steenkoolmyn’. Ons moet hierdie terreine noukeurig dophou, aangesien klimaatsverandering hierdie streek sal beïnvloed.”

Keiserpikkewyne is die enigste pikkewyne wat op see-ys eerder as op land broei. Dit maak hulle veral kwesbaar vir die klimaatskrisis. Dit is moeilik om keiserpikkewyne te bestudeer omdat hulle in afgeleë en dikwels ontoeganklike gebiede woon waar die temperatuur so laag as -50 °C is.

Peter Fretwell, ’n geograaf en hoofskrywer van die studie, het gesê die ontdekking is opwindend.

Alhoewel hy die nuus verwelkom, het hy gesê dat die nuwe kolonies die totale bevolkingsgetal met net 5% tot 10% tot net meer as 500 000 pikkewyne – sowat 265 500 tot 278 500 broeipare – laat toeneem.

Fretwell het gesê die bevolking van alle keiserpikkewyne sal na verwagting teen die einde van die eeu met 80% afneem.

“Die enigste werklike bedreiging vir keiserpikkewyne is klimaatsverandering. Sodra die see-ys gesmelt het, kan jy dit nie vervang nie. Daar is niks wat ons op plaaslike vlak kan doen om elke kolonie pikkewyne te help nie. Dit is ’n wêreldwye probleem.”

Vroeër vanjaar het dit geblyk dat pikkewynkolonies in sommige dele van Antarktika die afgelope halfeeu grootliks weens klimaatsverandering met meer as 75% afgeneem het.






Meer oor:  Antarktika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.