Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Nóg ’n dorp in visier van Islamitiese militante in Mosambiek

Die dorp Mueda in die Cabo Delgado-provinsie in die noorde van Mosambiek kan moontlik vandeesweek nog die teiken van aanvalle deur Islamitiese militante hier wees.

Só waarsku die Amerikaanse navorsingsinstansie Armed Conflict Location and Event Data Project (Acled) in sy jongste nuusbrief.

Acled sê volgens ’n bron het die militante, wat deur die terreurorganisasie Isis gesteun word, versterkings van die Chitunda-omgewing na Nchinga in die Muidumbe-distrik gestuur. Inwoners van dié distrik is deur die militante gewaarsku ’n aanval voor 20 November op die dorp Mueda is moontlik.

Acled sê in Oktober 2017 het 2 346 mense in 688 voorvalle van geweld gesterf. Van die mense wat dood is, was 1 218 burgerlikes.

Weens die moontlikheid van aanvalle op Mueda het groot getalle mense die gebied reeds begin verlaat.

Drie kommersiële banke het hul takke hier gesluit om te keer dat dit geplunder sal word.

Inwoners van Cabo Delgado in die noorde van Mosambiek. Foto: Argief

Die aanval op Mueda is alles deel van die stryd van die militante om Muidumbe te beheer.

Die dorp Pundanhar in die Palma-distrik vrees hulle sal in die hande van die militante beland indien die Mosambiekse weermag sy soldate aan Mueda sou onttrek.

In Muidembe is daar meer lede van die Makonde-stam en meer Christene as in die ander konflikgebiede in Cabo Delgado.

Die inwoners van dié streek is ook meer geneig om die Frelimo-regering in Maputo goedgesind te wees as die burgerlikes langs die kus van dié provinsie wat ryk is aan gas en olie. Verskeie internasionale maatskappye het belange hier.

Kenners meen Cabo Delagdo is ’n teelaarde vir die militante omdat die Mosambiekse regering die provinsie afskeep.

Die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissaris, Michelle Bachelet, het verlede week gevra die internasionale gemeenskap moet meer aandag gee aan wat in Mosambiek aan die gang is.

Meer as 50 mense, hoofsaaklik mans en seuns, is onlangs in Cabo Delgado deur militante onthoof.

Die VN beskryf die situasie hier as “desperaat”. Meer humanitêre hulp is ook nodig.

Acled berig die situasie word vererger deurdat die soldate van die Mosambiekse weermag en burgerlike verdedigingsmagte op mekaar skiet. Dit is glo omdat die burgerlike verdedigingsmagte nie uniforms dra nie en die soldate hulle dan as militante aansien.

Die prokureur-generaal van Mosambiek het onlangs aangekondig 12 Iraniërs wat vroeër langs die kus van Cabo Delgado aangekeer is omdat hulle glo 1 500 kg se kokaïen by hulle gehad het, sal ook daarvan aangekla word dat hulle AK47-gewere namens die militante vervoer het.

Die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap is in noue kontak met die Mosambiekse regering. Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week as voorsitter van die Afrika-Unie gesê daar is groot kommer oor wat in die noorde van Mosambiek aan die gebeur is.

Acled berig Zimbabwe se regerende Zanu-PF het ’n beroep op Joe Biden, die aangewese Amerikaanse president, gedoen om die sanksies teen Zimbabwe op te skort.

Dit sal Zimbabwe in staat stel om in Cabo Delgado in te gryp.

Meer oor:  Cabo Delgado
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.