Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
VSA: Geweld 'verleentheid' genoem, toe sterf nog

Enkele ure nadat pres. Joe Biden van Amerika dié land se vuurwapengeweld as ’n “internasionale verleentheid” beskryf het, juis oor die soveelste skietvoorval, het nog ’n skieter op sy kollegas in die deelstaat Texas losgebrand.

Biden het die nasie Donderdag toegespreek nadat ’n oudvoetbalspeler ’n dokter, sy vrou, twee kleinkinders en ’n ander man in die deelstaat Suid-Carolina doodgeskiet het. Die skieter het daarna sy eie lewe geneem.

’n Polisielid loop buite Phillip Adams se huis nadat hy Woensdag ’n dokter, sy vrou, kleinkinders en ’n ander man doodgeskiet het. Foto: Reuters

Biden het die vuurwapengeweld in Amerika as ’n “internasionale verleentheid” beskryf en gesê beperkinge sal ingestel word om vuurwapengeweld vas te vat.

Die lyk van Phillip Adams (32), wat ’n beroeps-NFL-speler was en vyf jaar terug laas gespeel het, is Woensdag ure ná die skietery gevind nadat hy dr. Robert Lesslie en sy familielede by sy huis in Rock Hill in Suid-Carolina doodgeskiet het.

Ondersoekers is nie seker hoekom Adams op Lesslie, sy vrou en kleinkinders losgebrand het nie.

Enkele ure later het ’n skieter in ’n fabriek wat kabinette in ’n nywerheidsgebied in Bryan in Texas vervaardig op sy kollegas losgebrand. Een persoon is doodgeskiet en ses beseer voordat die skieter in hegtenis geneem is. Vier van die mense wat in die skietery beseer is, is in ’n kritieke toestand hospitaal toe geneem.

Talle mense is reeds sedert Maart in Amerika weens vuurwapengeweld dood.

’n Skieter het op 16 Maart in die deelstaat Atlanta agt mense doodgeskiet, terwyl ’n ander skieter enkele dae later, op 22 Maart, op mense in ’n supermark in die deelstaat Colorado losgebrand het. Tien mense is toe doodgeskiet. ’n Skieter het ook op 31 Maart op mense in die stad Orange in die deelstaat Kalifornië losgebrand en vier mense doodgeskiet.

Phillip Adams het vyf jaar terug professioneel vir die NFL voetbal gespeel. Foto: Reuters

Biden en Merrick Garland, sy minister van justisie, sê hulle gaan beperkinge instel om vuurwapengeweld vas te vat sodat hulle massaskietery, selfdood en geweld in die gemeenskappe kan vasvat.

Die departement van justisie wil onder Biden se nuwe maatreëls onder meer op sogenaamde spookgewere fokus. Spookgewere verwys na ongereguleerde, tuissaamgestelde vuurwapens sonder reeksnommers wat dus nie nagespoor kan word nie. Die maatreëls behels ook dat aanhegtingstelle vir pistoolstabilisering – wat pistole prakties gesproke in gewere omskep – aan registrasie onder die nasionale vuurwapenwet onderworpe gemaak sal word. – Reuters

Meer oor:  Joe Biden  |  Amerika  |  Doodgeskiet  |  Moord  |  Polisie  |  Skietery  |  Dood  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.