Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Nog onluste in VSA ná polisie swart man doodskiet

’n Hoogs gespanne situasie het Dinsdagaand steeds in die strate van Philadelphia in die VSA geheers nadat die polisie vroeër die week ’n swart man in die stad doodgeskiet het.

Die 27-jarige Walter Wallace was gewapen met ’n mes toe twee polisiebeamptes hom Maandagmiddag doodgeskiet het.

Die aand het ’n grootskaalse betoging in die stad uitgebreek, waarin 30 polisielede beseer is toe die betogers hulle met bakstene en ander voorwerpe gegooi het. Meer as 90 mense is in hegtenis geneem en die polisie het dele van die sakegebied afgesper nadat die betogers die winkels geplunder het.

Dinsdag se betogings was op ’n kleiner skaal. Die nasionale wag se hulp is egter intussen ingeroep om die polisie by te staan.

Volgens ’n prokureur van die Wallace-familie het hy aan bipolêre versteuring gely. Sy vrou het glo voor die skietery sy sielkundige toestand aan die polisie verduidelik.

Dié voorval het Philadelphia in die deelstaat Pennsilvanië in die jongste brandpunt omskep waar betogings vir rassegeregtigheid reeds die afgelope paar maande voorkom. Die betogings het in groot dele van die land uitgebreek nadat George Floyd op 25 Mei dood is.

Die voorval was in Minneapolis toe ’n polisieman hom op die grond neergepen het deur met sy knie op Floyd se nek te rus en hy nie asem kon kry nie.

Die jongste onluste ná Wallace se dood het Maandagaand uitgebreek nadat beeldmateriaal wat ’n ooggetuie van die skietery geneem het op sosiale media versprei is.

Op die video kan gesien word hoe twee beamptes op hom skiet nadat hy versuim het om gehoor te gee aan hul opdrag om terug te staan en die mes in sy hand te laat val.

Frank Vanore van die polisie in Philadelphia het gesê die polisie het gereageer op ’n oproep oor ’n man wat skree en met ’n mes gewapen is. Volgens hom het albei die beamptes sowat sewe skote op die man afgevuur.

Roosevelt Brant III, ’n familielid van Wallace, het op ’n familiebyeenkoms buite ’n kerk aan Reuters gesê die konfrontasie tussen Wallace en die polisie kon dalk anders geëindig het as die polisie net ’n skokwapen gebruik het.– Reuters, verwerk

Meer oor:  Amerika  |  Geweld  |  Betogings  |  Polisie  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.