Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Nóg pragfoto's, video's van Philip se roerende afskeid

Prins Philip, hertog van Edinburg, is Saterdag tydens ’n somber, dog emosiebelaaide plegtigheid in Windsor ter ruste gelê.

Met net 30 familielede in die St. George-kapel teenwoordig is sy kis, gedrapeer in sy persoonlike vlag wat sy Griekse en Deense herkoms huldig, na die koninklike grafkelder onder die kapel laat sak.

Die statige koningin Elizabeth het alleen in die kerkbank gesit - ’n hartroerende toneel. Haar kinders en kleinkinders moes almal weens sosiale distansiëring in die kerkbanke aan weerskante van die kis sit.

Reg oorkant die koningin het ’n weemoedige prins Charles gesit. Tydens die prosessie om sy pa se oorskot van die Windsor-kasteel na die kapel te bring, het hy trane in sy oë gehad.

Sy twee seuns, prins William en prins Harry, het saam met hul neef Peter Philips met strak gesigte agter die groen Land Rover gestap wat as lykswa gedien het. Philip het Land Rover gehelp om aanpassings aan die ontwerp te maak sodat dit as lykswa kon dien.

Op die kis was ’n wit ruiker met ’n handgeskrewe nota van die koningin met net drie woorde sigbaar: In liefdevolle herinnering. Of sy die kaartjie as Elizabeth of Lillibet onderteken het, kon nie gesien word nie.

Die seremoniële koninklike begrafnis was weens die Covid-19-pandemie gestroop van oordaad, presies soos die vermaerde prins dit sou wou gehad het.

Prins Philip se vlootpet en ’n ruiker van wit blomme van koningin Elizabeth rus op die kis van prins Philip. Foto: Reuters

Afdelings van die gewapende magte, onder meer die koninklike mariniers, Grenadier-wagte en koninklike vloot, en militêre orkeste het op die vierkant binne die kasteel aangetree vir ’n roerende afskeid van die prins wat as vlootoffisier in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het. Hulle het met geboë hoofde op die kis gewag wat uit die private kapel van die monarg, waar die kis sedert Philip se dood op 9 April gehou is, na buite gebring is.

Die prosessie van die staatsingang van die kasteel na die abdy het agt minute geneem. Net die lykswa, slippedraers, familielede en lede van die prins se personeel het agter die stoet aangestap. Die koningin en ’n hofdame het in haar motor gevolg - die eerste keer wat Elizabeth as’t ware aan haar man voorkeur gegee het - hy het in lewe volgens protokol altyd effens agter haar gestap.

’n Geboë Elizabeth het alleen uit die motor geklim, vir ’n oomblik stilgestaan, teruggekyk en toe die kapel ingestap.

Die musiek tydens die diens, alles Philip se keuse, is hartroerend mooi deur net vier koorlede vertolk. Die kerkgangers mag weens inperkingsmaatreëls ook nie gesing het nie.

Tydens die diens het Justin Welby, aartsbiskop van Kantelberg, die prins gehuldig vir sy jarelange toewyding aan die koningin, Brittanje en die Statebond.

Koningin Elizabeth moes weens inperkingsmaatreëls alleen in die kerkbank in die koorgedeelte van die St. George-kapel in die Windsor-kasteel sit. Foto: Reuters
Lede van die koninklike familie het agter die Land Rover met prins Philip se kis op gestap. Agter die koninklike familie het personeellede van Philip gestap. Foto: Reuters
Catherine, hertogin van Cambridge, op pad na die St. George-kapel. Foto: Reuters

In die bank reg oorkant die koningin het Sophie, gravin van Wessex, die trane afgevee. Die koningin het stil, met haar kop vooroor gebuk in aanbidding, die diens gevolg.

’n Solo-doedelsakspeler het roerend A Lament gespeel terwyl die kis wat tydens die diens voor die altaar met Philip se eerbewyse op fluweel kussings uitgestal is, na benede laat sak is. Die familie kon vir dié oomblikke sonder die blik van televisiekamers in privaatheid van die patriarg van die Mountbatten-Windsors afskeid neem.

Toe het vier beuelblasers van die koninklike mariniers die weemoedige The Last Post deur die kapel laat weergalm.

Die laaste afskeid van die langste prinsgemael in die Britse monargie se geskiedenis was verby.

Prins William en prins Harry tydens die prosessie. Die twee broers het ná die diens buite die abdy al geselsend teruggestap na die kasteel. Foto: AP
Kranse van die koninklike gesin, ook een van prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, rus voor in die kapel. Meghan het die kaartjie by haar en Harry se ruiker met die hand geskryf. Sy kon weens haar swangerskap nie saam met Harry na Brittanje reis vir die begrafnis nie. Foto: Getty Images
Prins Philip se kis word in die kapel ingedra. ’n Swaard wat hy by koningin Elizabeth se pa, koning George VI gekry het, het saam met sy vlootpet op die kis gerus. Die prins se persoonlike vlag - met die vlag van Denemarke en Griekeland, die Mountbatten-familievlag en die stad Edinburg - was oor sy kis gedrapeer. Prins Charles en prinses Anne kan op die agtergrond gesien word. Foto: Getty Images
Die prosessie nader die St. George-kapel (links). Die prins het saam met Land Rover gewerk sodat die motor as ’n lykswa kon dien. Foto: Reuters
Die prins se kis is by die westelike trappe by die St. George-kapel op gedra. Toe die kis die bopunt van die trappe bereik is ’n minuut van stilte in die hele Brittanje gehandhaaf. Foto: Reuters
‘n Koninklike kanonsaluut het die minuut van stilte aangekondig en is op verskeie plekke in Brittanje afgevuur. Op die foto word die minuut van stilte by die Tower of Londen afgeskiet. Foto: Reuters
Lede van die gewapende magte het langs die roete van die prosessie met geboë hoofde gestaan. Foto: Reuters
Die wapenkoning lees al prins Philip se titels voordat die kis na die koninklike grafkelder laat sak is. Foto: AP
Prins Edward sal ná die afsterwe van sy ma sy pa se titel, hertog van Edinburg, kry. Langs hom sit sy seun, James, burggraaf Severn. Sophie, gravin van Wessex, snuit haar neus. Regs is hul dogter, lady Louise Windsor. Foto: Reuters
Prins William, Peter Philips (seun van prinses Anne) en prins Harry. Agter stap sir Tim Laurence, prinses Anne se man. Foto: Reuters
Britse Sondagkoerante het oorwegend gefokus op koningin Elizabeth wat alleen van haar man van 73 jaar moes afskeid neem. Foto: AP
Koningin Elizabeth het die begrafnisstoet in ’n Bentley gevolg. Foto: Reuters
Vier beuelblasers van die koninklike mariniers het die diens met die hartroerende klanke van ‘The Last Post’ afgesluit. Foto: Reuters

Buite die kapel het Charles die wagtende motors weggewuif wat die familie na die kasteel moes terugneem. Almal - buiten die koningin - het die steil paadjie terug na die kasteel begin stap.

Harry, wat soos prins Andrew ook alleen in die kerkbanke moes sit, het sigbaar ontspan toe sy skoonsuster Catherine buite die kerk met hom begin gesels. Binne ’n paar treë het hy en William ook begin gesels - die spanning tussen hulle vir eers op die agtergrond geskuif.

Harry sal heel moontlik tot eerskomende Woensdag, wanneer die koningin haar 95ste verjaarsdag vier, in Brittanje aanbly voordat hy na sy gesin in Amerika sal terugkeer.

Sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, kon weens haar swangerskap nie die begrafnis bywoon nie, maar het self die kaartjie geskryf wat by hul krans voor in die kapel gestaan het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.