Die lugbesoedeling in Nieu-Delhi, Indië, en omliggende dorpe is so erg dat skole gesluit is, terwyl ’n gesondheidsnoodtoestand in die land verklaar is.
Dié lugbesoedeling, wat minstens 40 miljoen mense raak en die ergste is wat tot dusver dié jaar gemeet is, het veroorsaak dat meer as 30 vlugte reeds herlei moes word.
Die strate in Nieu-Delhi is verlate nadat mense besluit het om liewers in hul huise te bly, omdat sigbaarheid ook baie swak is.
Safar, die regeringsagentskap wat die omgewing monitor, sê hy voorsien nie dat daar vir die volgende dag of twee enige verligting sal kom nie.
Sachin Taparia, hoof van Local Circles, ’n private konsultasiemaatskappy, sê Nieu-Delhi is basies ’n gaskamer op die oomblik.
“Delhi het in ’n gaskamer ontaard terwyl die besoedelingsvlakke in ’n baie ernstige kategorie val,” sê Taparia.
Local Circles het ’n meningspeiling onder 17 000 mense gedoen, waarin 40% van die mense gemeld het dat hulle uit die Delhi-gebied wil trek omdat lugbesoedeling nie beheer kan word nie. – Reuters
https://uk.reuters.com/article/us-india-pollution/indias-smog-bound-capital-suffers-most-hazardous-air-so-far-this-year-idUKKBN1XD08F