Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Nuwe Malawi-president moet bewys hy is amp waardig

Hoewel die geskiedkundige verkiesing van die nuwe Malawiese president, Lazarus Chakwera, as ’n oorwinning vir demokrasie in Afrika bestempel kan word, moet hy nog bewys dat hy sy amp waardig is.

So sê prof. Lesiba Teffo, ’n politieke ontleder verbonde aan Unisa se Instituut vir Afrika-Renaissance-studies, nadat Chakwera Sondag ingehuldig is.

pres. Lazarus Chakwera
Pres. Lazarus Chakwera Foto: AP

Pres. Cyril Ramaphosa het as voorsitter van die Afrika-unie (AU) Malawi reeds Sondag in ’n verklaring geloof vir die manier waarop die kwessie rondom die verkiesing van Chakwera gehanteer is.

Hoewel Peter Mutharika in Mei 2019 tot president herverkies is, het die land se appèlhof in Februarie die uitslae weens bewerings van bedrog ongeldig verklaar.

Malawiërs is in Junie terug stembus toe en Chakwera, wat ’n koalisie met opposisiepartye gevorm het, kon byna 59% van die stemme op hom verenig.

Teffo sê nog net in een ander Afrika land, Kenia, het die hof voorheen die verkiesingsuitslae omgekeer.

Die BBC berig in Kenia se geval kon die opposisie egter nie seëvier nie, en daarom is die onlangse verkiesing in Malawi ’n ongekende gebeurtenis op die vasteland.

“Chakwera se verkiesing het die onafhanklikheid van Malawi se verkiesingskommissie, asook sy howe bevestig. Dit is ook ’n oorwinning vir demokrasie omdat politieke leiers in Afrika te dikwels aan mag bly klou,” sê Teffo.

Teffo sê omdat Chakwera, ’n voormalige priester, nog nie te lank in die politiek is nie, kan hy moontlik vernuwende beleide instel.

“Hy moet egter nog wys of hy ’n president is wat die mense eerste gaan stel. Malawi, gemeet aan ander lande in sy omgewing, is ’n gemiddelde land met ’n taamlike goeie onderwysstelsel. Chakwera se uitdaging gaan wees om die min hulpbronne doeltreffend aan te wend om ekonomiese ontwikkeling te stimuleer,” sê Teffo.

Ramaphosa het juis in sy verklaring gesê die AU wil in die toekoms nouer met Malawi saamwerk om ekonomiese ontwikkeling in die land te bevorder.

Nyasa Times het intussen berig dat Chakwera, wat in sy inhuldigingstoespraak onderneem het om die land goed te bestuur, Maandag stelselmatig begin het om sy kabinetslede aan te wys.

Meer oor:  Verkiesing  |  Lazarus Chakwera  |  Malawi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.