Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Oë op SA en Angola om te sê oor DRK-eleksie

Waarnemers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) sê verlede naweek se verkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het “relatief goed verloop” ondanks die feit dat sommige kiesers weens die chaos nie kon stem nie.

Die SAOG se voorwaardelike goedkeuring weerspreek opposisiepartye se bewerings dat grootskeepse onreëlmatighede in die verkiesing voorgekom het.

’n Lid van die Amerikaanse regering het op sy beurt gesê die verkiesing was nie vry en regverdig nie.

Die legitimiteit van die nuwe president sal tot ’n groot mate daarvan afhang of Suid-Afrika en Angola die uitslag aanvaar.

’n Nuwe president moet volgens plan op 18 Januarie ingehuldig word in die plek van pres. Joseph Kabila, wie se termyn al in 2016 tot ’n einde gekom het.

Hy het eers ná groot druk besluit om uit te tree.

Suid-Afrika en Angola was aanvanklik groot bondgenote van die DRK, maar die verhouding tussen die lande het versuur omdat Kabila nie van sy mag wou afstand doen nie.

’n Verkiesingsbanier van Emmanuel Ramazani Shadary in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).Foto: Reuters

Meningspeilings voor die verkiesing het daarop gedui dat Emmanuel Shadary, ’n voormalige minister van binnelandse sake en Kabila se voorkeurkandidaat, nie die gunsteling is om te wen nie.

Martin Fayulu en Felix Tshisekedi het albei meer steun as hy geniet.

Die voorlopige uitslag word Sondag verwag en die finale uitslag op 15 Januarie.

Indien die uitslag aanvaar word, sal dit die eerste keer in 59 jaar wees dat die mag in die DRK demokraties oorhandig word.

Meer as ’n miljoen Kongolese in die ooste en die noorde van die land kon nie stem nie omdat die verkiesing in hul streke weens onder meer etniese konflik, logistieke probleme en die Ebola-epidemie uitgestel is. Dié gebiede is almal in streke waar die opposisie baie sterk is.

“Gegewe die uitdagings in die verkiesing meen ons as waarnemers dat die verkiesing relatief goed bestuur is,” het die SAOG-missie in ’n verklaring gesê.

Luidens die verklaring het 59% van die stembusse betyds geopen, die proses met die tel van die stemme was deursigtig en die polisie het toegesien dat die stempunte bewaak word.

“Die feit dat die verkiesing plaasgevind het, is ’n eerste groot oorwinning vir die mense van die DRK.

“Die missie hoop die verkiesing sal ’n getroue weerspieëling van die wil van die mense wees.”

Nadat die Europese Unie (EU) en die Amerikaanse Carter-sentrum met die vorige verkiesing in 2011 bevind het dat daar grootskeepse onreëlmatighede was, het Kabila se regering geweier dat hul waarnemers die verkiesing waarneem.

Die verkiesing van 2006 was ook deur onreëlmatighede gekenmerk.

Die vrees is dat ’n betwiste uitslag in Sondag se verkiesing kan lei tot onstabiliteit in die ooste van die DRK wat aan Rwanda, Uganda en Burundi grens.

Groot groepe guerillavegters is in dié gebiede bedrywig.

Meer oor:  Joseph Kabila  |  Saog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.