Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Ongerymdhede in federale tronk’ lei tot Epstein se selfdood

Daar was ernstige ongerymdhede in die federale gevangenis waar die miljoenêr en vermeende sekshandelaar Jeffrey Epstein homself vermoedelik om die lewe gebring het, het William Barr, Amerikaanse minister van justisie, gesê.

William Barr, minister van justisie van die VSA.Foto: AP

Epstein (66), wat kontak met onder andere pres. Donald Trump en oudpres. Bill Clinton gehad het, is Saterdag dood in sy sel gekry. Hy het vroeër skuld ontken op aanklagte van sekshandel waarop hy tereggestaan het en waarby meisies van so jonk as 14 jaar betrokke was.

Barr het belowe dat die saak teen Epstein se medepligtiges sal voortduur.

Hy sê hy is geskok en ontsteld omdat die tronk nie Epstein se selfdood kon voorkom nie.

“Ons hoor nou dat daar ernstige onreëlmatighede in die tronk was, wat kommerwekkend is en ’n deeglike ondersoek verg.

“Die feit dat die tronk besluit het om Epstein nie onder spesiale toesig te plaas om moontlike selfdood te voorkom nie, is een van die dinge wat ondersoek moet word.”

Epstein het vroeër ook probeer om sy eie lewe in die tronk te neem.

Die metropolitaanse gevangenis waar Jeffrey Epstein Saterdagoggend dood in sy sel gevind is.Foto: Reuters

CNN het Maandagaand berig die twee bewaarders aan diens het albei weens personeeltekorte by die tronk oortyd-skofte gewerk. Epstein is dood nadat daar vir ure niemand by sy sel was nie. Iemand wat selfdoodneigings het, moet elke 15 minute in sy sel besoek word.

Jeffrey EpsteinFoto: AP

“Al is dit al wat uit hierdie saak kom, sal daar hopelik uiteindelik besef word watter probleme daar al jare lank by hierdie tronk is,” het David Patton, uitvoerende direkteur van die federale verdedigers van New York, gesê.

“Dit is ’n onmenslike, beknopte plek met te min personeel en te min mediese en sielkundige hulp.”

ABC News het berig FBI-agente, doeanebeamptes en lede van die grensbeskermingseenheid is in die hawe en op die perseel van Epstein se eilandhuis in die Maagde-eilande gesien.

Die FBI se woordvoerder, Guillermo Gonzalez, het dit bevestig, maar wou nie meer inligting gee nie.

Meer oor:  Jeffrey Epstein  |  William Barr  |  Selfdood  |  Tronk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.